Die Appel val nie ver van die boom nie.

Wat maak ‘n appelboom ‘n appelboom? As daar appels aan die boom hang dan is dit sekerlik ‘n appelboom? So mens kan dan seker tereg sê: die boom word geken aan die vrugte wat hy dra. Net so word ek en jy ook geken aan die vrug wat ons dra. Hoe lyk die vrug wat jy dra my liewe vriendin in Jesus? Kyk mense na jou en sê: Jip defnitief, beslis ‘n dogter van die Koning? Bewys die vrug wat jy dra dat jy bekeer is? (Matt. 3:8)

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. (Gal. 5:22) Ek het vir jare gepraat en gelees van die vrugte van die Gees, maar sien jy dis vrug van die Gees. Enkelvoud. Ek het baie gewonder daaroor, weet jy hoekom dit so is? Dis vrug is liefde en die deeltjies of die vrug van die Gees bly deel van een vrug, net so is elke vrug van die Gees deel van die eenheid. Jy kan ongelukkig nie ‘pick en choose’ watter vrug van die Gees jy lus het om na te kom nie. Dis nie ‘n tick boksie en jy kies watter een vir jou die beste werk, die beste by jou persoonlikheid pas nie. Dis ‘n alles of niks tipe situasie.

Die vrug van die Gees is die produk van die Heilige Gees in ons, nie ‘man made’ nie, maar ‘God made’. Die kwaliteit van die vrug wat ons dra is nie eendag op ‘n reëndag net daar nie. Nee, die vrug van die Gees manifesteer al duideliker in ons soos ons nader aan God se hart groei. Dis ‘n groeiproses… Meer God, minder ek. Weet jy waar is werklike vryheid? Daar waar die Gees van die Here is, daar sal ons volkome vryheid ervaar. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. (2 Kor. 3:17-18)

Ek het soms ‘n probleem met die term Christen. Christene kan soms soveel skade aanrig aan die Kerk van Jesus. Ons almal is skuldig, ons as Christene maak soms ander mense seer met skerp, venynige oordeel. En soms lyk die vrug wat ek en jy dra maar bra wurm-geinfesteerd. Ek sal eerder wil bekend staan as ‘n volgeling van Jesus. Bitterlik onperfek en my tenkie word gevul met genade, net dit. Die vrug van die Gees is sigbare eienskappe van ‘n lewe en wandel saam met Jesus.

Ek het gedink ek gaan die antonieme van die vrug van die Gees neerskryf en kyk wat gebeur: haat, terneergedruk, baklei, ongeduldig, onvriendelik, liefdeloos, ontrou, hooghartig, ongedissiplineerd. Sjoe dis nie ‘n baie mooi versameling van woorde nie, dit laat mens nie ‘warm and fuzzy’ voel nie. Nou wonder ek net party dae voel party van hierdie karaktertrekke meer deel van my as die vrug van die Gees behoort te wees. Sukkel ons nie maar almal met dieselfde goed nie, gits of is dit net ek?

‘n Appelboom word gesnoei laat winter, vroeg lente voor aktiewe groei kan plaasvind. Jy kan die Appelboom op ‘n paar maniere snoei, die natuurlike manier is om die boom te los sodat hy groei soos hy wil, dis mooi op die oog, maar en daar is mos maar altyd ‘n maar, die  boom dra klein appels en dis moeilik om die appels te pluk, so eintlik is die boom daar vir mooigeit…

As jy ‘n appelboom ordentlik snoei kan dit die boom gesonder maak, dit stimuleer groei en op die langtermyn word meer appels geproduseer van goeie kwaliteit. Ek glo nie die snoei proses is gemaklik of lekker vir die appelboom nie, maar so so nodig. Die Snoeier sal kom en jou boom snoei, jou snoei, sodat jy optimaal sal vrug dra, en dit sal nie lekker wees nie maar ai so die moeite werd. Elke loot wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. (Joh. 15:2)

Ek en jy moet wees soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie, (Ps. 1:3) met ‘n gesonde wortelstelsel wat gewortel is in die Skepper van die heelal.

Weet jy waarna moet ek en jy strewe? Dat as mense na ons kyk dan moet hulle sê: Kyk, die appel val nie ver van die boom nie. Sal dit nie die mooiste kompliment wees wat jy nog ooit in jou lewe gehoor het nie, as ander mense Jesus in jou kan sien? Hoor wat sê hierdie Verlosser van my en jou vandag vir jou. “Ek is die wingerdstok, jy my liefste kind, die loot. Bly in My en Ek sal in jou bly sodat jy baie, mooi vrugte kan dra… sonder My kan jy NIKS doen nie.” (Joh. 15:5) Ek het jou uitgekies en aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou…” (Joh. 15:4-5,16)

 

2 Replies to “Die Appel val nie ver van die boom nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *