Maak jou Huis Mooi Skoon.

Jip hierdie blog gaan oor huis skoonmaak, siende dat ek ‘n huisvrou is het ek die besigheid mooi onder die knie en ek deel graag my huis skoonmaak wenke #101 met jou… ha ha. Nee ek spot en ek is lekker laf. Maar terwyl ek nou op die onderwerp is, as jy soos ek die huiskoonmaker, die skottelgoedwasser, kosmaker, wasgoedwasser, strykster ens is. Sussie ek voel jou pyn dis harde, ondankbare werk. Noem ons dan maar susters in verdrukking…

Ek wil wel bietjie gesels oor huis skoonmaak, maar dis die ander soort ene waarvan ek praat. Soms kom tik God so liggies op my skouer en Hy sê: “Vertel bietjie van die keer… wat jy moes huis skoon maak.” Nou kyk jy kan dink ek het die plot nou heeltemal verloor, ek is die kluts skoon kwyt, en dan is dit goed so… en jy kan natuurlik met my verskil… dis ook goed so.

Kom ek verduidelik gou ietsie en dan verstaan jy beter waar ek vandaan kom. Eerste daai oor bekende versie in die Bybel in Efesiërs 6:12, Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. So ons baklei is teen die goete wat ons nie kan sien nie, en daai mannetjie en sy trawante is besige bytjies wat wil steel, moor en uitroei. (Joh. 10:10)

Jy lewe in die Lig, vir die Lig en deur die Lig. Daar is of behoort nie plek te wees in jou huis vir die vyand of enige iets wat met die vyand verband hou nie. Dis vir God of teen God. Hier is nie plek vir draadsitters nie. Dis swart of wit, met geen grys areas nie. Ek gaan nie ‘n lys van goed opsit wat ek alles jare terug in die asdrom gegooi het nie. Dit was iets wat ek gevoel het God verwag van my en ek was gehoorsaam, alhoewel dit nie maklik was nie en van die goed wat ek weggegooi het was goed wat ek van gehou het.

Luister my liewe sussie in Christus, ons kan nie bekostig om afgodsbeeldjies in ons huise aan te hou nie… ek weet ek weet dis nie asof jy die goed aanbid nie, dis net daar vir mooigeit. Dis nietemin ‘n afgodsbeeldjie en ek praat nou vir myself en nie namens God nie, ek wil regtig niks doen wat moontlik God se hart kan seer maak nie, en daarom het ek die tipe goed uit my huis gegooi en verban. Ons kan nie ons huise versier met goed wat ander kulture aanbid as afgode en aanhang nie. Hoe kan dit reg wees?

Ek sê ook nie dit het alle magte oor jou en bring ongeluk, dood en ongelukkigheid nie! Kom ek verduidelik dit so, en dis so bietjie tong in die kies meer om die punt te maak as enige iets anders. Die dag toe jy jou man ontmoet het, het jy alles van vorige kêrels weggegooi of weggegee, wel altans ek hoop jy het! Jy het nie op die oomblik foto’s van al jou ekse op die sitkamer muur nie, dis sal weird wees en ek kan jou briefie gee dat manlief dit nie sal laaik nie, of duld nie.

Gits dink hoe jy sal voel as hy foto’s het van al sy blonde eksmeisies, en dit mooitjies wegbêre, kyk hy dink nie aan hulle nie, hy hou dit net vir ‘n aandenking. Jy hoor my? Net so min soos wat jy daarvan sal hou kan ek my nie vir oomblik in dink dat dit okay is met God nie. God is ‘n jaloerse God! Hoor bietjie wat sê Eksodus 20 vers 5: Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My! Doen wat reg is in die oë van die Here. (Deut. 6:18)

In die New King James staan die volgende: For the Lord your God is a jealous God. (Deut. 4:24) Kom ons gee nie die duiwel vatkans nie, kom ons doen wat reg is in die oë van die Here omdat Hy my en jou eerste liefde is. Laat die stukkie in Psalm 25 (Passion translation) jou en my gebed raak die versugting van ons harte: Escort me along the way; take me by the hand and teach me. For you are the God of my increasing salvation. I have wrapped my heart into yours! My hart en God se hart is inmekaargeweef en daarom sal ek nie die goed in my huis hê nie, uit heilige respek en ‘n oneindige liefde vir Hom wat my gemaak het.

One Reply to “Maak jou Huis Mooi Skoon.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *