Ek en Jannie is die jaar 22 jaar getroud. ‘n Leeftyd van bymekaar maak, leef, vervang. Koop en verkoop. Kort na ons troue het ons, ons eerste meubels begin aanskaf. (Kan jy onthou? Daar was ‘n tyd toe van jou vertrekke leeg gestaan het, want jy was pasgetroud en nog besig om huis op te sit, goeie ou dae nê!) Nou kom die liedjie Pasgetroud van Anton Goosen in my kop op. Maar nietemin ek praat-skryf my skoon van my eie storie af.
Van die heel eerste meubelstukke wat ons aangeskaf het was ‘n eetkamerstel wat ons by Bloemfontein se mark bestel het, nogals ‘n Oregon pine ene. Sjoe dit was so exciting… en ons moes paar weke wag, want jou stel word spesiaal gemaak. So 7 jaar terug sê-vra ek vir my beterhelfte: “Is dit nie tyd vir ‘n nuwe eetkamerstel nie?” Natuurlik stem die minister van finansies van ons huis nie saam nie. “Nee! Die stel makeer mos niks!” Toe sien ek maar ‘n plan en verf die hele stel met Annie Sloane net om so bietjie nuwe lewe aan die stel te gee. Vir die volgende 6 jaar was ek heel tevrede met die stel!
So 2 jaar terug kyk die minister van finansies na die budget en besluit ons kan maar begin soek vir ‘n nuwe eetkamer stel. Nou dis mos nou die lekker deel! Ek gaan loer oral, tweedehandse winkels, marketplace, Cori Craft… you name it! Ek was daar. Probleem met my, daar is altyd ‘n prentjie in my kop. En uiteindelik kry ek die tafel waarvan ek hou. Sommer in Durbanville in ‘n hoek winkeltjie waar ek al duisend keer verby gery het! Die tafel is perfek… nie 100% wat ek wou gehad het nie, en boonop 40% afgemerk. Gits wie sal nie van die tafel hou nie?
Maar, jip daar is altyd ‘n maar. Die tafel het ‘n glasblad. Ja ek weet! What was I thinking? Met die terug kyk slag wou ek defnitief eerder ‘n houtblad gehad het, verkieslik van ‘reclaimed’ hout, want jy weet ek gee baie om vir die natuur. Ek is eintlik meer ‘n houtblad meisie, ‘n plat op die aarde meisie as ‘n blink glasblad meisie. Nietemin!
Die tafel gee vir my grys hare! Die girls se vetterige vingers op die blad lyk soos ‘n moderne kunswerk, die stoflagie op die blad ‘n konstante herinnering dat my huis nie só skoon is nie. Ek moes die glasblad op my daaglikse to-do lysie byvoeg. En ek is seker die hoeveelheid Mr Min wat ek wax on en wax off is besig om ons osoonlaag stukkie vir stukkie te vernietig… Ai tog!
As ek vir God gevra het sou Hy gesê het: “Marthatjie, jou persoonlikheid en die tafel gaan nie lekker gel nie. Jy koop meer werk as vreugde!” Dit werk baie keer in ons lewe ook so, ‘n wil-hê raak ‘n moet-hê, maar dan vra ons vir God kan ek die tafel kry met die glasblad en God sê: “Nee, dis nie goeie plan nie!” Sien God het klaar die chroniese stof-lagie op die tafel gesien, die onnodige frustrasie. Hy wou my dit spaar, maar ek wou my sin hê! Ek het gedink ek weet beter. Ja … ek weet ek praat nie meer van die tafel nie.
God wil vir jou die beste hê. Sy beste vir jou is nie jou beste vir jou nie! Vir myself soek ek tweede beste verskans as beste. Moet-hê! Ons neem groot besluite sonder om by die voete van ons Vader te gaan sit en te vra… ons doen dit sommer op ‘n daaglikse basis. Oom Angus sê altyd: When in doubt don’t. Geen antwoord op ‘n baie groot vraag is nie: Maak soos jy wil nie. Geen antwoord op ‘n baie groot vraag beteken net: haal asem, raak rustig. Jy sal hoor wanneer jy moet hoor. Tot dan bid en wag.
Stel jou vertroue in die Here, vertrou op Hom, wag op die vervulling van Sy woord. (Ps. 130:5) Psalm 37:7 die Passion Translation sê so mooi: Quiet your heart in His presence and pray; keep hope alive as you long for God to come through for you. Onthou: Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here. (Klaagl. 3:25) Hy het nie van jou vergeet nie…
Dankie Martha. Ek glo ook ons moet geduldig wag op die Here. Hy weet en ken ons die beste.
Wat’n wonderlike troos dat ons weet dat God ons harte ken en dat Hy ons bitterlik lief het…