‘n ‘Cool’ Vriendin.

As ek R5 gekry het vir elke keer wat ek die volgende frase gebruik: ek is jou mamma, nie jou maatjie nie, dan sou ek skatryk gewees het. En jy? Hier is die ding, jy kan nie jou tienerdogter se beste vriendin en mamma wees nie, soos baie dinge gaan een rol daaronder ly, en ek kan jou amper ‘n brief gee oor watter rol dit gaan wees.

Daar moet duidelike lyne en rolverdelings wees. Hoeveel respek dink jy is daar in tiener verhoudings tussen maats? Ek het ‘n ding oor respek, dis vir my die basis van enige verhouding, dis eintlik die gom van menswees. Jy kan enige iets sê en doen op ‘n respekvolle manier. Tot raas ook!

In ‘n vriendin verhouding is julle tog gelyk, BFF’s, die een word tog nie hoër geag as die ander nie. Anderdag as hulle groot en uit die huis is, man dan sien ek uit om my girls se beste vriendin te wees, maar vir nou gaan ek tevrede wees met net maar mamma.

Terwyl jy die mamma-mondering aan het en jy moet dissipline-fronse uitdeel, is ek bevrees jy sal maar vir eers, in hierdie seisoen net mamma moet wees. Hoe cool is dit as jou vriendin jou beveel om jou deurmekaar kamer aan die kant te maak? Supercool? Nee, I think not!

As jy siek voel soek jy jou ma, nie ‘n ‘cool’ vriendin nie. Iemand wat jou verstaan (soveel as wat jy van ‘n tiener se inner workings kan verstaan) wat jou van altyd plus 9 maande ken.

Met ‘n vriendin deel jy tog nie jou diepste seerkry nie, wanneer jou hart stukkend is daar altyd mamma wat daar is. Dit het al so een of wat keer gebeur dat die emosies oor die wange begin loop en al kom daar geen woorde oor die lippe nie, kan jy sommer in die tru spieëltjie sien aan die hangskouertjies en die swaar voetstappe, Sussie het nie ‘n lekker dag gehad nie.

Jy is eerstens ma en dit is belangrik om hierdie vreemde wesens op ‘n verantwoordelike manier deur die storm en drang jare te kry. As ma moet jy verstaan dat daar tye gaan wees dat jou tiener nie baie van jou en jou opinie gaan hou nie, en dis okay, want jou vel is dik en jy kan dit hanteer. Dis ook baie belangrik om ten alle tye te onthou wie die grootmens is. Gits ek het al so een of twee keer vir my girls gesê: “Ek hou nie op die oomblik baie van jou nie, maar lief, ek het jou altyd lief.” So hou van heeltemal die heeltyd… is mos realtief in ‘n tiener-ma verhouding.

Weet jy wat doen besties? Hulle deel hulle harte met mekaar, so hoe goeie plan is dit om jou vrese en bang met jou tiener te deel? Ek vermoed dis die laaste ding wat jou tiener nodig het is om jou bagasie te help dra-sleep deur die lewe. Hulle skouertjies is eenvoudig nog nie sterk genoeg nie.

Weet jy wat is dit wat jou tiener die meeste by jou soek? Is om emosioneel en fisiek beskikbaar te wees, arms wat kan vasdruk, tissues op gereedheids basis as daar getroos moet word en ‘n arsenaal van goeie opbouende woorde om hulle deur die tienerjare te dra en bekers vol stomende Hot chocolate met piepklein marshmallows wat bo-op dryf…

Nou as jy nie hulle BFF kan wees nie, en jy wil nou wragtig ook nie net ma wees nie… wees dan hulle grootste ondersteuner en aanmoediger, wees die een wat altyd daar is langs die lewenspad waarop hulle voortbeur. Wees jy die een wat die prys en die high-fives uitdeel, en wanneer hierdie kosbare tiener-kind van jou struikel en val op die lewenspad, wees jy die een wat nader hardloop, help stukke optel en al die eina’s beter soen.

Miskien kan mens albei gelyke tyd wees? Ek weet nie, dis sekerlik nie onmoontlik nie, maar dit voel tog deur die stormagtige jare van tiener wees het hulle my nodiger as ‘n mamma as ‘n bestie. Vriendinne is belangrik, maar daar is min dinge wat kom by ‘n ma.

Eendag nie te ver in die toekoms, wanneer ek klaar geraas, grootgemaak, gekorrigeer en opgevoed het, wanneer ek met ‘n sug en ‘n traan in die oog my arms oopmaak sodat jy jou vlerke kan sprei. Dan sal dit my eer en voorreg wees om jou ‘cool’ vriendin te wees liefste sussie, maar vir nou is ek maar net mamma.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *