Jannie vertel graag vir almal wat wil luister dat ons gelukkig getroud is, ek is gelukkig en hy is getroud. Ai, bou nou ‘n nasie met so ‘n volk! Nietemin, ons is regtig gelukkig getroud. Daar is plakker in ons kamer opgeplak wat sê: So nou en dan, te midde van ‘n ordinêre lewe, gee die LIEFDE ons ‘n SPROKIESVERHAAL. Ek lewe ‘n sprokie met my Prince Charming.
Vir my is die belangrikste aspek van enige huwelik om waaragtig, onvoorwaardelik lief gehê te word. Die soort liefde wat God vir ons het. Agapé liefde: liefde ten spyte van foute, misverstande, verskille in sienings. Ons wil weet en hoor: Ek het jou liewer as die lewe self, jy is my alles. Wees almal eengesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. (1 Pet. 3:8) Om verseker te weet, jy het ‘n veiligheidsnet, hande wat keer as jy val, iemand wat jou kant kies (al is jy soms verkeerd). Iemand wat jou lief het net soos jy is, wat nie op subtiele en minder subtiele maniere probeer om jou te verander nie.
Onvoorwaardelike liefde beteken ook niks of niemand kom tussen ons nie. Veral nie kinders en skoonouers aan albei kante nie. Ons is ‘n span. Wanneer ek verloor, verloor jy en wanneer jy verloor, verloor ek. Dis ‘n ons-ding nie ‘n ek en jy ding nie. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. (1 Pet. 4:8)
Humor, ai man lag ‘n slag, wat is ook die alternatief… huil? Hoor hoe mooi sê Alba Bouwer dit: Iemand met ‘n sin vir die klein dingetjies, iemand wat lekker kan lag, dis die soort mens wat lekker in ‘n huwelik saam met jou trek, lekker lag oor jou, saam met jou, oor homself. ‘n Sin vir humor is noodsaaklik in ‘n huwelik. Dis die wonderlikste ding as jy en jou maat oor simpel goed kan lag dat die trane rol, dis goeie medisyne, dis blywende medisyne. Moet tog nooit die lewe te ernstig opneem nie, nie ek of jy gaan lewendig uit hierdie lewe kom nie!
Ek wil ietsie sê oor intimiteit, ek besef dis nie ‘n onderwerp wat ons wil oor praat nie, en as ons doodeerlik met mekaar wil wees dan lyk intimiteit vir mans en vrouens anders. Intimiteit vir vrouens is gesels oor diep dinge, vir mans het intimiteit niks met woorde te doen nie. Die feit is dit is BITTER BELANGRIK dat albei se behoefte aan intimiteit vervul word. As jy bitterlik ver verwyder van jou man voel op die oomblik, gaan maak bietjie die som… Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. (Gen. 2:24) Eenwording en intimiteit is ‘n God-plan.
Jesus die middelpunt van my bestaan en menswees, maar ook die middelpunt van ons huwelik. Sonder Hom is ons niks, ons huwelik niks, dan is dit net twee mense wat voortploeter in die alledaagsheid van elke dag bestaan. Dis elke man vir homself. Efesiërs 5 vers 21 stel dit so mooi: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Omdat ons Hom eerste liefhet is ons aan mekaar onderdanig, sit ons, ons eie behoeftes op sy en dien die een wat jy die liefste het met nederigheid en ‘n hart propvol onvoorwaardelike liefde. Het God nie self gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Gen. 2:18) Gelyke onderdanigheid.
Ek besef hierdie versie is nie spesifiek gemik op die huwelik nie, dit gaan eintlik oor alleen reis, maar tog dit raak my hart aan elke keer as ek dit lees. Twee vaar beter as een. As die een val, kan die ander hom ophelp. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm. Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie. (Pred. 4:9-12)
Nog ‘n belangrike aspek van die huwelik is kommunikasie, en die grootste stry en baklei in die huwelik is mis-kommunikasie. Ek het 7000+ woorde per dag om op te gebruik, en aangesien ek heeldag alleen is by die huis, raai op wie gebruik ek daai paar duisend woorde… jip op manlief. So save to say: ons kommunikasie is nie te sleg nie. Ek wil tog net noem wat nie werk nie is om as jou man te praat ‘tussen die lyne te lees’… luister gou daar is geen tussen die lyne lees met mans nie. Ek het al geleer om te sê-vra: gister het jy dit of dat gesê en dis wat ek gehoor het, en 100% van die tyd het ek goed ‘gehoor’ wat hy nie gesê het nie. Het ek verkeerdelik tussen die lyne gelees wat nie bestaan nie.
As jy dink jou man kan jou gedagtes lees… hy kan nie, beslis nie! So gebruik jou woorde. Sê vir hom hoe jy voel. Nie attack-mode nie. Kalm en rustig verduidelik jy vir hom hoe dit jou laat voel het. Die beste raad wat die Bybel vir enige huwelik kan gee is: As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie. (Ef.4:26-27) Stilstuipe is vir kinders, regtig jy doen jouself meer skade as jou maat. Gebruik net die woorde wat jy het in jou arsenaal ‘woorde-per-dag’. Nie ‘n skree-geveg nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Antwoord met ‘n seënwens. (1 Pet. 3:8) Onthou nou weer as jy verloor, verloor hy, verloor julle.
Wie anders is ‘n sielsmaat as iemand wat jou voltooi. Soos ‘n ring wat nie ‘n begin of ‘n einde het nie. Liefde wat vir altyd, ewig en drie dae hou. Deur moeilike tye, sakke en sakke vol sout. ‘n Liefde so volmaak in sy onvolmaaktheid dat jy weet dit kan net kom van die Groot Bron van Liefde- God self!