Kan ek maar die uitdrukking: Geraamtes in jou kas gebruik? As jy geen sonde het waaroor jy skaam is nie, waarmee jy sukkel, waaroor jy struikel nie, dan hoef jy nie verder te lees nie. As jou geraamte kas dolleeg is, is jy so naby aan perfek soos kan kom… en as jy gelukkig net van die ‘Klein Sondetjie Afdeling’ sondetjies het, dan is jy okay! Nee ek grap net, daar bestaan nie so persoon nie, en nog minder kan jy sondes in kategorieë in deel van groot na klein, bitter erg na gangbaar. Sonde is sonde. Punt. Einde van die storie.
Ek en jy moet baie versigtig wees om nie ons sondetjies met ander mense se SONDES te vergelyk en met ons neusies in die lig, hoogmoedig te dink: Ek het darem nog nie op so groot skaal drooggemaak nie! Luister: Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. (Rom. 3:23)
Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging. (Ps. 51:19) God soek nie my en jou baie verskonings, verduidelikings en verontskuldigings nie, God soek verootmoediging, jammerte, opreg, diep uit jou hart. Hy wil só graag jou sondes vergewe en dit weggooi in die diepblou see. (Miga 7:19)
Het jy al die gesegde gehoor: Mense wat in glashuise bly moenie klippe gooi nie? Hier is die ding; ons almal bly in glashuise, of ons dit glo of nie, so sit maar gerus die klippe neer. Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip gooi. (Joh. 8:7)
Dis baie makliker vir my om die splinter in jou oog raak te sien en die balk in my eie oog te ignoreer. Dis eintlik belaglik maklik… Haal eers die balk uit jou eie oog uit! (Matt. 7:5) Dit is so waar en ons is almal so bietjie skuldig. Ons leef soms asof God nie al die blink glashuisies en balke raaksien nie.
Ek kan baie maklik redeneer, as God my vergewe op grond van genade alleen, dan kan ek mos maar passief wag vir God om vergifnis en genade oor my kop uit te giet. God weet mos ek is sorry! Genade is verniet, maar beslis nie goedkoop nie, maar die effek van genade moet my en jou binneste aanraak, soveel so dat ons by God smeek: Laat my diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe, opregtheid wat lê-plek diep in my hart kom vind het. (Ps. 51:8)
Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. (Ps. 51:12) Ons moenie gerieflikheidshalwe vergeet van die belangrike versie in Johannes 8 vers 11 nie: Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie. Jesus praat nie slegs met die vrou wat met owerspel betrap is nie, God praat vandag met my en jou. Ons moet aktief waak teen sonde, ons moet dit beveg met elke greintjie krag wat in ons gebeendere is. Ons kan nie net terug lê en terug val op genade nie. Dis my en jou manier om vir Jesus dankie te sê vir Sy groot genade en ontferming. Ons kan nie langer die mantel van vergifnis en genade misbruik nie.
Ons moet breek met ons sondes, groot en klein, om in ware vryheid te kan leef. Natuurlik sal ons nooit sondeloos wees nie, maar ons kan daagliks daarteen baklei met God se hulp. Arme Paulus klink so-so moedeloos: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.” (Rom. 7:15) Is dit nie presies wat sonde doen nie? Dit maak mens moedeloos en laat jou ver van God af voel.
Wat is genade? God laat U-draaie toe, soveel soos jy nodig het. Genade is ‘n U- draai. ‘n Oor begin, ‘n weer begin. Elke keer met ‘n spierwit skoon bladsy. Genade is ‘n God wat jou menslikheid verstaan, verstaan dat jy uit stof gemaak is. Omdat Hy self mens was, verstaan Hy en het daaraan gedink dat ons maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie. (Ps. 78:39)
Jy word vrygespreek nie omdat jy die wet onderhou nie, maar omdat jy in Christus glo. (Fil. 3:9) Dis die kort en lank van Christus se liefde en genade vir jou. My liewe vriendin in Jesus: Mag God wat vrede gee, jou volkome aan Hom toegewyd maak en jou geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat jy onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. (1 Tess. 5:23)
Dankie dat jy ons weer daaraan herinner. Mag ons almal daarvolgens leef. Prys die Here.
God haat die sonde, maar het die Sondaar innig lief. 🌺