Ek weet nou nie van jou nie, maar my man dra nie bosse blomme aan huis toe nie. Ek het darem al twee keer blomme by hom gekry, met Baba 1 en met Baba 2. (Moenie wag vir die grappie deel nie, ek is ernstig!!) Dit maak hom nie onromanties nie, hy is romanties op ander maniere. Soos tee in die bed in die oggend voor ons albei moet opvlieg en klaar maak vir die dag. Baie drukkies, en onverwagse Whatsapps deur die dag, en woorde wat opbou nooit afbreek nie… en so dan en wan ‘n geskenk so uit die bloute soos die lewerplantjie wat hy in Nieuwoudtville se kwekery gekoop het oppad terug van ‘n vergadering.
Ek is mal oor enige vetplant, alwyn, kaktus noem dit op, dit is vir my pragtig… die lewerplantjie het ‘n ereplekkie gekry op die vensterbank in my kombuis. Ek het bietjie gaan oplees oor die plantjie dat ek nou nie die arme plantjie binne ‘n week verdrink of laat doodgaan van te min water nie. Die lewerplantjie is ‘n tipe vygie, met twee blaartjies, gehard en hy blom daar waar hy geplant word. Oorlewing is sy ding… ook maar goed!
Dag drie by sy nuwe huis laat val ousus hom van die vensterbank af, so heel per ongeluk met ‘n elmboog wat gun mens weet hoe hy daar gekom het nie, nietemin al die grond is uit, en een van die twee blaartjies breek ‘n groot stuk uit. Ons plant die plantjie dadelik weer, maar nou lyk hy half sad so met die een af armpie. Ek is half bekommerd of hierdie ou plantjie dit gaan maak…
Kom ek sê net eers die plek waar God by verre die meeste met my praat is wanneer ek in my kombuis is en wanneer ek stryk. Ek het al gesê die geraas in my kop is nooit ooit stil nie. God praat maar so bo die geraas met my en ek luister graag.
Terug by die lewerplantjie in die kombuisvenster en wat hierdie plantjie my geleer het… want maak het hy dit gemaak en nie eers twee weke na sy amper-dood val blom hierdie plantjie met die mooiste geel blommetjie so met die af arm en al.
Ons as volgelinge van Jesus word nie gewaarborg dat dinge nie sal skeef loop nie, maar die waarborg is dat jy nooit alleen is nie. Slegte dinge gebeur met goeie mense- all the time! Ons moet ophou vra hoekom ek, ons moet vra hoekom nie ek nie? Hierdie plantjie het geblom kort na hy homself disnis geval het, ek het hom opgetel, afgestof en weer mooi terug gedruk in die grond. Maak God nie ook so met jou en my nie, is dit nie sy liefdevolle Pappa hande wat ons optel en weer versigtig plant nie? Hy wat goed en genadig is sal jou paaie gelyk maak as’t ware jou grond in jou blompotjie terugsit.
Wanneer ons seerkry en gekneus daarna uitsien, dis dan wanneer ons karakter vorm, want dis dan wat ons gryp na die uitgestrekte hand van die Vader, wanneer alles in ons lewens agterstevoor en onderstebo is. Wanneer dinge lekker en goed gaan doen ons dit nie. Ek en jy kan en moet groei en blom te midde van swaarkry en gekneusdheid.
Nie jou eie krag nie, Goddelike krag. God se genade is genoeg, soms het ons nodig om swak te wees sodat ons die krag van God in ons lewens eerstehands kan ervaar. Was God se genade nie nog altyd genoeg nie? (2 Kor. 12:9)
Ek en jy hoef nie langer in angs en bewing te lewe wanneer ons een blaartjie afgebreek is, wanneer ons siel en menswees erg geknak is nie, God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. (Ps. 46:2-3) Soos die plantjie in my vensterbank kan ek blom te midde van hartseer, pyn, siekte en verlies. Die Here die Almagtige is by my… en by jou. (Ps. 46:8)
Miskien is jou blaartjie mors-af gebreek, jou menslike krag het tot ‘n einde gekom, miskien voel dit of al jou potplantjie se grond uitgeval het en daar is niemand wat jou raak sien of help nie.
God fluister vandag saggies in jou hart: “Ek ken jou op jou naam, Ek is jou goedgesind. Ek sal saam met jou gaan waar ookal jy gaan en Ek sal vir jou vrede gee te midde van elke storm wat om jou woed.” (Eks. 33:12,14) God se planne vir my en jou is perfek, dit voel nie altyd so nie, maar dit maak dit nie minder waar nie. Is ons perfek? Defnitief nie! Is die God wat ek en jy dien perfek? Beslis!
Ongelooflik mooi, inspirerend, vertroostend en opbouend. Dankie Jesus dat U daar is as die son skyn en deur storms
…veral deur die storms van die lewe is die bewustheid van God se nabye teenwoordigheid die tasbaarste.✞
Pragtige les wat die plantjie ons leer. Baie dankie.
Eenvoudige plantjie met ‘n groot en waardevolle les.✞
So goed om gereeld dit te onthou. Ouma se sê ding was ook altyd…”Blom waar jy geplant is”.
Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot… (Jeremia 17:7-8)✞
God is sooo getrou! Na ‘n groot storm en hartseer wat my gister getref het, het ek sooooo nodig gehad om hierdie te kry.
Ek loof U Heilige Naam my God en Skepper! 🙏
Sjoe so mooi getuienis van ‘n getroue God en Vader! ✞
… God is good all the time even when we do not ‘want’ to see it. Vanaand se Bybelstudie my weer terug gebring na die stukkie. Jona het opdrag gekry en hy wou dit nie uitvoer. Hy het sy sonde probeer weg steek, hy’t probeer wegkruip en steeds het God hom gevind. Steeds het hy na God geroep en gese, maar ek voel nie lekker hier in die vis se maag nie (in my situasie nie). Hyt in God vertrou en tot ‘n koning het opgestaan uit sy troon en op ‘n ashoop gaan sit en saam met Jona in God vertrou.
Maklik om vir my te se, seker, ek was nog nie so baie seer deur nie. Wat ek wel weet is dat ons ‘n amazing God dien! Af blaar of nie… Ek dank die liewe Here vir alles wat in my lewe gebeur, ek vertrou Hom, ek glo in Hom en my grootste behoefte is om saam met Hom op daai water te loop. Huis toe….
Amen skoonsus, so mooi gestel.✞