Sou jy vir my geluister het, die 18 jarige meisie-nog-vrou vol wysheid wat alles weet en die wêreld reeds oorwin het? Ai het jy maar net geweet wat ek nou weet sou die lewe miskien ‘n bietjie makliker gewees het. ‘n Bietjie eenvoudiger.
Leef voluit, leef doelgerig, jaag jou drome na, vreesloos. Drome wat van God af kom is so die moeite werd om na te jaag. Ons almal leef op geleende tyd, genade tyd. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Laat geloof, hoop en liefde die kompas wees op jou lewenspad. Die rigtingwyser.
Moenie te trots wees om te sê: Ek was verkeerd, ek is jammer nie. Vergewe vinnig en finaal vir jouself en nie vir die ander persoon nie. Los die ou koeie in die sloot. Leef in die hede, leef vir die hier en nou. Vergeet die verlede en konsentreer minder op die wat asse en sê nou maars.
Dis nooit ‘n goeie idee om jou eie, baie reëls slaafs na te volg nie, dit sal jou moedeloos laat voel. Jy hoef regtig nie so hard op jouself te wees nie. Leer om jouself lief te hê. Don’t sweat the small stuff. Moenie ‘n berg van ‘n molshoop maak nie.
Laat gaan en laat God oorneem en in beheer wees van jou lewe. Om te stres oor dinge waaroor jy geen beheer het nie is soos om op ‘n wiegstoel te wieg. Dit gee jou iets om te doen maar dit laat jou nie vorentoe of eens agtertoe beweeg nie. Dis sinneloos… en as dit kom by jou eie kinders, God het hulle baie liewer as wat jy hulle ooit kan of sal hê. God het hulle in die palm van Sy hand. Bid vir hulle maar laat die bekommerd wees oor hulle in God se bekwame Pappa hande.
Die sal-self-houding is gereserveer vir 2 jariges alleenlik. Regtig, God het mense om jou gesit om jou te help, jy hoef nie alles alleen te doen nie. Sussies in Jesus is daar om jou kroon reguit te skuif, op te tel as die kroontjie afval en te help afstof as jy bitter hard val. Jy hoef niks aan niemand anders te bewys nie, behalwe aan jouself.
Argumente is vir prokureurs en advokate as jy nie een van bogenoemde is nie, moenie jou asem mors met argumente nie. Everyone is entitled to their own opinion. Almal dink nie soos jy nie.
Jy moet vir almal lief wees, maar jy hoef nie van almal te hou nie. Doen aan ander wat jy wil hê hulle moet aan jou doen en as jy nie iets moois kan sê nie bly eerder stil. Moenie leuens vertel nie, leuenaars moet goeie geheues hê en word altyd uitgevang, altyd. Die gesegde: Moenie maak soos ek maak nie maak soos ek sê, werk nie. Mense en veral kinders volg jou voorbeeld. Jou voorbeeld is die beste getuie dat jy ‘n kind van God is. Getuig voor mense en as dit nodig is, gebruik woorde.
Geduld is ongelukkig nie oorerflik nie, dis ‘n aangeleerde vaardigheid. Oefen oefen oefen… hoe meer jy die geduld-toets dop, hoe meer her-eksamens sal daar wees.
Dis goed vir jou om te huil, trane was die vensters van die siel skoon. ‘n Blywende les is die een wat jy geleer het deur skande en skade. Eers wanneer jy iemand na aan jou hart verloor, besef jy wat jy gehad het. Gee aandag aan jou hartsmense wees vir hulle elke dag lief, liewer, liefste. Moet nooit ooit kwaad gaan slaap nie.
People-pleasing is vir die voëls. My motto: Solank God en my man van my hou dan is ek okay. Hou jy van almal? Hoekom voel jy dan dat almal van jou MOET hou. Hou op om jou hele lewe te probeer inpas. Dr Seuss het gesê: “Why fit in when you were born to stand out?”
Liewe self, die geheim tot sukses is om gelukkig en tevrede te wees met wat jy het, waar jy is en wie jy is. Meer goed, groter huise, grênder motors sal jou nie gelukkig maak nie. Geluk kan nie gekoop word nie. Dis beter om te gee as om te ontvang. Alles wat jy het en besit behoort in elk geval aan die Een wat jou gemaak het. ‘n Doodskleed het nie sakke nie. Besittings, dinge en goete kan nooit ooit vir jou geluk koop nie.
Jy hoef nie ‘n nobelprys te wen of die CEO van ‘n belangrike maatskappy te wees om ‘n verskil te maak nie. Jy kan ‘n reuse verskil maak in iemand se lewe op die kleinste denkbare manier met klein gebare en ‘n hart vol liefde. Verandering begin by jou. Mahatma Ghandi het gesê: “Be the change that you wish to see in this world.” Hou op aandag skenk aan die ‘realis’ en die negatiewe mense om jou. Hulle wil jou so graag aftrek tot op hulle vlak.
Ten slotte liewe self: Daar is net een soos jy… net een. Wees die beste jy wat jy kan wees. Die wêreld sal ‘n armer plek wees sonder jou. Onthou altyd: God het jou net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en jou met aansien en eer gekroon. (Ps. 8:6) God is vir jou, wie kan dan teen jou wees? (Rom. 8:31)
Liefde in Jesus.
Die Veel Wyser en Ouer Ek.
♥♥♥ sooo mooi en so waar. Liefde xx
❤️️ Net die tyd leer ons. Niemand word wys gebore nie. (Miguel de Cervantes)