Die Visrivier Canyon in Namibië, is die grootste Canyon in Afrika. Op sy breedste is die Visrivier Canyon 27km wyd en 550m diep. Gestel God sê om in die hemel te kom moet jy die 27km ver kan spring, dis die kwalifikasie. Ek het gaan kyk die verspring rekord in SA vir mans is 8.5m en vir vroue 6.93m. Ek dink ek kan seker 1.5m spring…miskien? En jy? Hoe ver kan jy spring? Die punt is niemand kan oor die Canyon spring nie, niemand kan in die hemel in spring nie. Al is jy Moeder Teresa, jy gaan dit steeds nie maak nie. Jy gaan kort spring en in die Canyon beland. Pens en pootjies.
So hoe nou gemaak? Ons het ‘n brug nodig, so maklik soos dit. Die Brug is Jesus. Jesus sê in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie”. Jesus is die Brug, die enigste manier hoe om in die hemel te kom, daar is nie kort-paaie, om-paaie, kronkelpaaie nie. Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (Rom. 3:23) Daar is net Jesus.
Wees julle dan volmaak soos julle Hemelse Vader volmaak is. (Matt. 5:48) O genugtig, wag, wat? Ek dink ons is almal in groot moeiliheid!! Hand op wie is volmaak? Lyk my after all daardie brug is nie vir my en jou beskore nie. Ek dink ons verstaan soms verkeerd! Ons dink volmaaktheid, goedheid en diensbaarheid ons in die hemel kan kry, maar ons is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. (Ef. 2:8) Volmaaktheid deur genade onbeskryflik groot. Die brug is gebou met genade…
Ons moet die Lam se bloed aan die deurkosyne van ons hart smeer, sodat die dood ons kan oorslaan. Sodat ek en jy weet dat ons weet ons is bestem om oor die brug die Ewige Lewe in te loop. Reinigingmaking deur die genade van ‘n Verlosser, die Brug. Wees Heilig, want Ek die Here julle God is Heilig. (Lev.19:1) Wat beteken dit om heilig te wees? Dit beteken om afgesonder te wees vir God. Om anders te wees, die Engelse het ‘n mooi woord daarvoor. Set apart-to keep or intend for a special purpose. Ons moet voor loop, marsjeer oppad na die brug toe.
Sal dit nie ‘n droewige dag wees as iemand wat jy ken, iemand vir wie jy lief is, daar oor die canyon probeer spring en skoon mis spring nie? Is dit nie my en jou werk om vir almal te vertel, te skreeu: “Nee, nee! Moenie spring nie, daar is ‘n brug, jy kan veilig daaroor loop”, en dan moet ons nie net die pad daarheen beduie nie. Ons moet agter Jesus aanloop en sê volg jy my…
Hoe lyk die pad na die brug? “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en die wat daardeur ingaan is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en die wat dit kry, is min.” (Matt. 7:13-15) Is die pad na die Brug maklik? Dit is nie… maar jy weet hoe om daar te kom. Jy weet dat jy ‘n ewigheid in die teenwoordigheid van God gaan spandeer, dan is dit irrelevant of die pad maklik of moeilik is.
Sien jy ook uit daarna om oor die brug te loop in die wagtende arms van Jesus in? Wees bly en verheug want julle loon in die hemel sal groot wees. (Matt. 5:12) Jesus sal opmaak vir elke seer wat jy hier op aarde moes dra! In Sy teenwoordigheid sal jy heel wees, tuis wees. Maranata… kom Here Jesus!