Aan die begin van die inperking lyk die dinge in ons huishouding anders as gewoonlik. Ons moet leer om spasies te deel, spasie te gee waar nodig, spasies af te staan wat eens aan jou behoort het. ‘n Hele nuwe ervaring met Tuisskool en Kantoor by die huis vir Jannie. Ons leer om meer verdraagsaam te wees, sonder enige hulp huis skoon te maak en tuinwerk self te doen. Ons eet te veel, toets te veel resepte, maar ons maak die ding werk…
Ons moes ook so bietjie huis reëls verander, huiswerk bietjie deel, maar die girls vat die verandering soos champs en elke outjie doen sy deeltjie. Soms onder protes en met teëstribbeling, maar meeste van die tyd wen ek en dinge gebeur darem so min of meer soos dit moet.
Middagetes word die girls se verantwoordelikheid (die girls het vergadering gehou en self so besluit) en soms eet ons selfs van ‘n menu af. So verloop alles darem min of meer klop disselboom. Een Woensdagaand maak ek en Ousus Spaghetti Bolognaise… ‘n gunsteling in ons huis. Hoe weet ek dis Woensdagaand? Dis huisskoonmaak dag… die vloere blink en die huis is silwerskoon. Kleinsus kom die kombuis in en vat haar opgeskepte bord spaghetti en toe sy wegstap hoor ek ‘n slag en met die omdraai lê die bord spaghetti en slaai mooi netjies versprei die hele, mooi, skoon vloer vol. Oeps. Soms moet mens tot 10 tel of 100… Ai sussie!
Ek tel toe maar my telle en besluit om nie my cool te verloor nie. Ousus gaan in ma-mode in en baklei met kleinsus oor die vuil vloer en gemorste kos. Ek sê: “Stadig sussie dis nie die einde van die wêreld nie, dit was nie met opset nie.” Sien een van twee goed kon sekerlik gebeur het, ek kon Kleinsus verskree het maar ek het daai aand gekies om die tweede opsie te kies. Ek kon kies: Lag of Kwaad? Ek het al baie maal verkeerd gekies en dan hond sleg agterna gevoel. Daar is niks so sleg om in ‘n benoude kinder gesiggie te kyk terwyl jy raas nie, veral as die ‘ongeluk’ nie met opset was nie. Dinge gebeur mos maar.
Met die vloer vol spaghetti leer ek ‘n paar kosbare lesse. Ek het beheer oor baie min dinge, maar hoe ek optree is ‘n besluit en ‘n keuse. Jou getuienis is in hoe jy optree of nie optree nie. Jou kids hou jou fyn dop hulle maak soos jy maak en glad nie soos jy sê nie! Jou werklike karakter kom uit wanneer jy alleen by jou huis en jou eie mensies is.
Agterna het ons lekker gelag nadat Kleinsus groot askies gesê het, want nadat die vloer skoon gekom het, het die hele sak patats vorendag gekom. Die rede hoekom die Spaghetti op die vloer geval het? Kleinsus het probeer moonwalk soos Michael Jackson en duidelik het sy nog nie die “move” lekker onder die knie gehad nie!
Met die inperking het ek ook weereens besef hoe belangrik gesin is: ‘n Gesin wat saamstaan, ‘n veilige vesting waar jy jouself kan wees. ‘n Skuilplek teen die storms… ‘n Gesin wat jou onvoorwaardelik aanvaar. Ek dink sommer aan die versie in Kolossense 3 vers 21:’n Mooi versie wat ons as ouers altyd moet onthou. Ouers, moet nie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. Ons kinders is so kort deeltjie deel van die gesinseenheid. ‘n Skrale 18 jaar, as ons gelukkig is soms ‘n bietjie langer. Ons moet die Spaghetti op die Vloer oomblikke koester. Ons moet vashou so al ons kan aan alles wat mooi, goed en reg is. Sodat wanneer die tyd kom ons, ons arms met vrymoedigheid kan oopgooi en hulle in stuur die wêreld in… Gee jou kind ‘n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf. (Spr. 29:17)
Soms wanneer jy in die ondeunde, stout gesiggies van jou kroos kyk en bid vir genade en eerder nie krag nie onthou altyd: Daai klein mensies wat skoorvoetend voor jou staan is geskenke van die Here, uit Sy hand het Hy hulle aan jou toe vertrou. (Ps. 127:3)
Hulle is gelief in huise en harte, hierdie engele wat ons “kinders” noem. God se sonlig is vasgevang in hulle harte, in hulle oë blink daar nog iets van Sy glans. Hierdie weglopertjies uit die hemel maak my sagter en meer van ‘n man. Nou weet ek waarom God sê dat Sy Koninkryk aan mense soos hulle behoort.
(Charles Dickens)
Dis so waar…ons is mos van nature ongeduldige mense…ek so maklik om vinnig te reageer. Dis my persoonlike daaglikse challenge ..dankie vir die mooi bemoedigende woorde. Dit beteken baie vir my.
“Patience is the companion of wisdom” (Anoniem)
Pragtig.
“A garden of love grows in a Grandmother’s heart.” (Anoniem)
Pragtig geskryf!!!!!
“Be the parent today that you want your kids to remember tomorrow.” (Anoniem)