Wees Jy net Jy!

Maria het aan die voete van die Here gaan sit en na Sy woorde geluiser. Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” (Luk. 10:38-41)

Jou naam sê baie van jou, wie jy is, waarvoor jy staan. Gaan soek bietjie die betekenis van jou naam op,  jy sal verstom wees hoe akkuraat dit is. Martha beteken: vrou van die huis. Huisvrou? Sien wat ek bedoel? Nou spot ek sommer met myself, maar ja ek glo daar is krag in jou naam. Many moons ago toe ek nog op skool was het ons so oulike varkhondjie gehad. Ons besluit toe om die varkie Problems te noem… Ai! Al wat ek kan sê hy het elke dag seker gemaak dat hy die betekenis van sy naam ten volle en met oorgawe uitleef.

Ek is vernoem na my ouma Martha. Ek kan nie sê ek hou nie van my naam nie, nee wat, ek is mos maar wie ek is… Martha. Ek hou van my naam, maar hier is die ding: ek het nog altyd gevoel ek wil eerder ‘n Maria wees, jy weet, die een wat by Jesus se voete sit, nie ‘n dienende Martha “wat besorg en bekommerd is oor baie dinge nie.”

Een van my gunsteling versies is in 1 Korintiërs 14:32: God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. Ek is beslis my Hemelse Pa se kind, ek het die orde-gene in oorvloed gekry, georden en georganiseerd. Ek kan glad nie optimaal funksioneer in die midde van chaos nie. Het al probeer, maar nee dit werk eenvoudig nie vir my nie!

So die ordelike sy van my het oor die jare begin versag, luister: not there yet, maar ek het begin besef dat om die heeldag te skrop en te skarrel in jou huis nie goed is vir jou of die mense wat in jou huis woon nie. Ek het begin besef tiener kamers kan maar bietjie deurmekaar wees… tot op ‘n punt.

Dis vir my ‘n konstante stryd om ‘n Maria te probeer wees. Regtig! Dis harde werk om iemand te wil wees wat jy nie juis is nie. Hoekom wil ek eerder ‘n Maria wees? Jesus self het dan gesê Maria het beter gekies. So sukkel ek op my eentjie aan en probeer my bes om ‘n Maria te wees, vir jare al, maar helaas gooi ek net my hande in die lug op. Ek gee op! Ek is nie ‘n Maria nie, ek is ‘n Martha. Dis wie ek is… Ek gaan sit by Vader se voete en ek gaan vertel Hom My struggles… maar Hy weet dit alreeds.

Weet jy wat sê God? Ek wil jou nie verander in iemand wat jy nie is nie, maar balans is nodig. ‘n Martha met balans, nie ‘n Martha wat struggle om ‘n Maria te wees nie. Weet jy hoeveel energie word vermors as jy streef om iemand te wees wat jy nooit veronderstel was om te wees nie? Na al die vermorste jare van Maria probeer wees besef ek vandag eers, dit was ‘n ek-plan, nie ‘n God-plan nie. Weet jy wat was oorspronklik die dagstukkie se naam? Wees eerder ‘n Maria…Genugtig, dink daaraan as ons almal soos Maria was. Wie sal huis skoonmaak en die tieners se leë pense vol probeer hou. Wie sal die tweens se gemoedere probeer kalmeer en vrede nastreef?

God sê: “Wees ‘n Martha wat kies om gereeld by My voete te sit. Kies om ‘n Martha te wees wat nie besorg en bekommerd is oor baie dinge nie, maar wat eerder die baie dinge toevertrou aan My, die Almagtige God. Wees ‘n dienende Martha, wat omgee en uitreik, wat help waar jy kan. Wees ‘n onperfekte Martha wat alles kan doen deur My krag, maar nie alleen spoeg en spartel om kop bo  water te hou nie. Wees ‘n Martha met balans. Nie ‘n Maria nie, wees wie Ek jou geskep het om te wees. Wees jy net die beste jy wat jy kan wees.”

So liewe vriendin in Jesus, daar is net een soos jy. Jy is jy en basta met die res. Ja daar is altyd plek vir verbetering, skaafwerk en afronding, maar hou op om iemand te probeer wees wat jy nooit bedoel was om te wees nie. Wees jy net jy…

8 Replies to “Wees Jy net Jy!”

  1. DAnkie Martha, ek is ook maar ‘n Marta mens en wil ook net partykeer net ‘n Maria wees, maar dit is waar wat jy sê – ‘n mens moet ‘n balans vind van tussen ‘n Marta en ‘n Maria wees. Dankie vir jou inspirerende woorde x

  2. Watter pragtige foto!! Blomme spreek altyd boekdele. Dankie vir sulke wyse woorde!!! Ek geniet dit so en lees dit baie keer oor en oor. Kosbaar vir my.

    1. Die botterblomme en die vygies van die veld hef verlangende gesiggies op na U. So wil ek leef, my Vader: sonder angs en vergelyking, net met my oë op U. (Maretha Maartens)

  3. Absoluut!!! Elkeen is uniek en wonderlik geskape. Sjoe maar die boodskap het my ook sommer laat dink. Dankie M!!!! Jy is awesome!!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *