Gooi die deur van jou hart wyd oop.

Laat ek jou voorstel: Dit is Jesus. Hy is regverdig en Hy is nederig. (Sag. 9:9) Hy is nie soos ek of jy nie, nee Hy is Die Een wat my oorlaai met Sy genade en met geloof en liefde. Hy is verdraagsaam teenoor my. (1Tim. 1:14,16) Hy tree ook nie op soos ek of jy nie. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. (Jes. 11:3) Hierdie Jesus is geduldig met my en jou. (2 Pet. 3:9)

Vir baie is Hy Liewe Jesus, en Hy is dit ook, maar vir my is Hy Die Leeu uit die stam van Juda. (Openb. 5:5) Die Lam van God wat die sonde van die wêreld weggevat het. (John. 1:29)

Jesus sê vanoggend vir jou: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by jou ingaan en saam met jou die feesmaal hou, en jy saam met My.” (Openb. 3:20) Daar is twee goed wat my vanoggend opval van hierdie versie. Die eerste en die belangrikste is, Jesus staan daar voor die deur van jou hart en Hy klop… Hy is ‘n Gentleman. Hy klop geduldig en wag vir jou om die deur van jou hart wyd oop te gooi sodat Hy kan inkom. Wat Hy nie sal doen nie is om die deur af te breek met ‘n luide gejuig.

Wat Hy ook nie sal doen nie is om op te hou klop nie, nee my liewe vriendin in Christus, dit moet jy mooi verstaan: Hy is té lief vir jou om jou net te los. Hy sal aanhou klop en klop en klop… Wat soek Jesus voor jou deur? Hy soek vir jou, want Sy enigste begeerte is ‘n diepe verhouding met jou. Net daar waar jy is. Net soos jy is.

Die tweede deel van die versie lees ons partykeer mis: Wat as jy Hom inlaat? Wat dan? ‘n Feesmaal soos jy nog nie beleef het nie. ‘n Feesmaal in jou eer, ‘n feesmaal terwyl jou teëstanders moet toekyk, waar jy vrou na aan God se hart die eregas is, waar jy oorlaai word met hartlikheid. (Ps. 23:5)

Ons is soms bang om hierdie deur van ons hart oop te gooi vir die Een wat ons gemaak het, soms los ons die deur op ‘n skrefie oop, ons wil hê Hy moet inkom, verseker,moet my nie verkeerd verstaan nie, maar ons is nog nie bereid om die beheer van ons lewens 100% in Sy bekwame hande te laat nie.

Daar is sommiges van ons wat Hom innooi maar op ons eie terme, ons het so bietjie beperkings en voorwaardes, terme en bepalings wat geld. Ons is steeds soos die 2 jarige wat sal self, wat skewe lyne in stowwerige paadjies trek met ‘n vuil groottoontjie en dan in ons enigheid dink ons is okay. Ons sal die dingetjies en die goedjies in ons lewens mooi self uitsorteer. Baie dankie!

Daar is van ons wat in sommige areas van ons lewens vra dat Jesus vir ‘n rukkie moet buite staan. Hy sal dit doen. Soms is Hy welkom, maar soms is daar dinge in ons lewens wat ons oor skaam is, dinge wat ons voel nie heeltemal vir Jesus se oë bedoel is. Dan is dit beter vir ons om Hom net in te nooi wanneer dit ons pas, maar om dit te doen sal ons nooit werklik vry wees nie sal ons nooit die volheid van die feesmaal kan geniet nie.

Liefste vriendin in Jesus, ek nooi jou vandag uit: Gooi daai deur van jou hart oop, gooi die deur wawyd oop. Laat die Lig inkom. Laat die Lig oorvloedig inkom sodat die Lig die seerste, diepste, onsekerste-wegsteek hoekie van jou hart kan verlig. Nooi Jesus in elke deeltjie van jou lewe in. In elke hoekie van jou hart se kamer. Maak plek. As jy voel jy moet eers bietjie ‘springclean’ voor jy Hom innooi. Jesus wil jou help om orde te skep in jou hart, Hy sal jou help om die ‘springcleaning’ te doen.

Die feesmaal saam met Jesus is so die moeite werd, en jy kan daai feesmaal op aarde beleef, moet asseblief nie dink dit is eers vir die hiernamaals, die ewigheid nie. Hoekom sal jy wag vir die hemel as jy die stukkie van die hemel hier op aarde al kan beleef? Moenie ‘n minuut langer wag nie, gooi die deur van jou hart wawyd oop. Jesus se belofte vanoggend aan jou: “Ek sal vir jou ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee…” (Eseg. 36:26)

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *