Die laaste paar weke van 2020 was maar effe woes hier in die Meüter huishouding. Daar was min tyd vir batterye herlaai, ons moes maar net kop afhou, vasklou en deurdruk met al die leerdery, buitemuurs en al daai lekker goedjies wat so eie is aan daai tyd van die jaar. Besprinkel ‘n bietjie ekstra Covid stres by en ta-da. Almal sien maar bietjie leepoog en moeg daarna uit.
Ek en kleinsus het maar baie tyd agter die boeke deurgebring, ousus is erg verantwoordelik en het nie meer my hulp nodig nie…dis ook glad nie ‘cool’ as jou ma jou help as jy 16 jaar oud is nie, dankie tog! Kleinsus leer en ek vra. Dan leer ons weer ‘n bietjie, stry ‘n bietjie, dreig ‘n bietjie, huil ‘n bietjie…
So leer ek en kleinsus van elektrisiteit en hoe die elektrisiteit tot by jou huis kom. Van steenkool, stoom, turbines en opwekkers. Met die kennis weer vars in my kop gaan maak ek middagete… Ek is baie lief vir roosterbrood en die reuk daarvan. Roosterbrood het vir my hierdie gerustellende, welkom-by-die-huis reuk.
Terwyl ek die brood rooster praat God saggies met my. Is dit nie wonderlik dat God met jou kan gesels terwyl jy besig is met iets so eenvoudig soos toast maak nie? En dit op ‘n tyd wat ek bietjie ver voel van God, bietjie ‘disconnected’. ‘n Besige seisoen, maar darem met die besef dat dit net tydelik is. Met die dat ons besig is om te probeer oorleef: met min tyd op die hande, ‘n 16de verjaarsdag wat gereël moet word, die gedurige nimmereindigende huis skoonmaak, wasgoed, stryk, kosmaak en skottelgoed wat mos soos die weduwee se kruik is, dit raak mos nooit op nie!
Ek het myself nou weer heeltemal van my storie af gepraat… terug by die toast. Hier staan ek voor die toaster en God fluister: “Sien ek is die elektrisiteit, jy hoef net in te prop en die krag is tot jou beskikking, Ek ‘loadshed’ nie, daar sal altyd elektrisiteit in jou boksie wees. Dis verniet, dis pure genade.” Jy is die brood en die geur van toast vul die lug: Ons wat een is met Chrsitus, ons versprei die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. (2 Kor. 2:14)
Wanneer die elektrisiteit in die toaster ingaan word elektriese energie omgesit in hitte energie. Wie is die Hitte energie? Die Heilige Gees van God wat in ons harte woon, wat inspraak lewer en ons advokaat is. Ons rigtingwyser wanneer ons bietjie doelloos rondswerf in die deurmekaarheid en verwarring van die lewe.
‘n Toaster het ook verskillende verstellings, jy kan kies hoe bruin of wit jou toast gaan wees. Jy draai net die knoppie, en wanneer die toast gereed is gaan die hitte energie oor in bewegings energie en ta da! Jou toast is gereed, perfek en spring sommer self uit. Wanneer brand toast? Wanneer jy aan die knoppie stel en karring en die toast uitspring voor dit heeltemal klaar is, wanneer jy dit dan terug druk brand dit maklik. Dit ruik nie baie lekker nie, en jy moet vensters oopgooi en dit gee ‘n gehoes en geproes af… hoekom brand die toast, want ons is oorhaastig en wil dit op ons eie tyd klaar hê op ons eie manier. Ons vertrou nie die toaster om die perfekte toast te maak nie.
Waar is Jesus in die hele toaster prentjie? Hy is die ene wat jou vashou altyd! Heeltyd by jou is. Jou beste Vriend, jou Heler, jou Wonderwerker, jou Alles. Hy is die brood wat lewe gee. Wie na Hom toe gaan sal nooit weer honger kry nie.” (Joh. 6:35)
My gebed vir jou is dat jy sal ervaar hoe God jou brood daagliks sal voorsien, dat Ons Vader wat in die hemel is se wil in jou lewe sal geskied, dat Hy wat heilig is, jou oortredinge nie langer teen jou sal hou nie, dat Hy jou sal verlos van alles wat sleg is vir jou. (Matt. 6) Ek bid dat jy ingeprop sal wees in die onuitputbare kragbron. Dat Hy jou nuwe krag sal gee sodat jy met arendsvlerke sal vlieg. Dat wanneer jy vermoeid is na liggaam en gees dat Hy jou sal versterk. (Jes. 40:29,31) Amen!
Sal nooit weer dieselfde na toast kyk nie! Inspirerend!
❤️️ I pray that He would unveil within you the unlimited riches of His glory and favor until supernatural strength floods your innermost being with His divine might and explosive power.(Ephesians 3:16 The Passion Translation)
Haha ja ek ook. So goed geskryf. Dankie hiervoor. Xx
Dankie Martha dis baie mooi
Ek het ook sommer nou lus vir n broodjie.
🍁 Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ‘n rots? (2 Samuel 22:32)