Nog Naderby.

Waarna smag jou hart? Wat is die behoefte van jou siel? Is jy sommer net moeg en gedaan al soekend na iets, maar ook nie heeltemal seker waarna nie op hierdie laaste daggie van 2020?

Gee aandag en kom na My toe, luister… (Jes. 55:3) Is dit waarna jou siel en gees smag? Om nog naderby aan God se hart te beweeg. Om Sy hartklop in jou oor te hoor tewyl jy op Sy skoot sit met jou kop teen Sy bors? Op jou Pappa se skoot. Veilig, geborge, weggesteek. Jesaja sê: gee aandag, gaan na Hom toe en luister.

Wat beteken dit om aandag te gee? Dit beteken gee vrye verbeelding. Sien Hom oral om jou, in die natuur, in die wind wat liggies met die gordyn speel. Voel Hom in die drukkie wat jy vir jou man gee, soek Hom orals in die alledaagsheid van jou bestaan … jy sal Hom daar vind. Gaan nader, sonder vrees. Jy is so welkom in die Troonkamer.

Nader tot God en Hy sal tot jou nader. (Jak. 4:8) Gaan sit by Sy voete en hoor wat Hy vanoggend vir jou wil sê. Jy het nie nodig om ‘n dag-reis se stap by die berg op te gaan nie. Abba kom ontmoet jou sommer net waar jy is, in die kombuis besig met die skottelgoed. Agter die strykplank met die reuk van skoon klere in jou neus. Net soos jy is, net daar waar jy is.

Hoor jy hoe die Man van Nasaret in jou oor fluister. Ek het jou nog altyd liefgehad. (Jer. 31:3) Waar is jy klein dogtertjie in die wit rokkie? Jy wat glo soos ‘n kind, onaangeraak deur die wêreld en die verlies aan die kant van die hemel. Laat die Man van Nasaret die dogtertjie in jou se hart heel maak. Laat Hom toe om jou onbevange, onbesorg in die lug op te gooi… want jy weet Hy sal jou vang. Lag sorgeloos in Sy teenwoordigheid terwyl Hy jou woes in die rondte swaai tot julle altwee uitasem en al giggelend in die lang gras neerval. Roep die Man van Nasaret aan…Hy is naby. (Jes. 55:6)

Laat die Heilige Gees jou kompas wees, jou koers op ‘n onbekende pad. Laat Hom in, gooi oop die deur van jou hart. Nooi Hom in, laat Hom toe om jou konstante metgesel te wees. Te deel in jou vreugde, jou te vang wanneer jy val en jou trane af te vee wanneer die lewe jou wind uitskop. Die Gees van God sal jou bystaan in jou swakheid. (Rom. 8:26) Jy kan die pas aangee, Hy is geduldig met jou. Wie is die Heilige Gees ander as God in jou?  Immanuel, God by jou. Die Gees van die Here sal op jou rus: Die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen. (Jes. 11:2)

En die vrou na aan God se hart, die dogtertjie met die seer hart wat in jou woon verklaar met ‘n dankbare hart: Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met U raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby U te wees. (Ps. 73:23-25,28)

Hoor hoe God ‘n wiegelied oor jou sing terwyl Hy jou styf teen Sy bors vasdruk: Ek is by jou, Ek die Krygsman wat red. Ek is vol vreugde oor jou, Ek is stil-tevrede in My liefde vir jou. Ek jubel en juig oor jou My liewe kind. (Sef. 3:17)

Luister na hierdie besonderse liedjie: No one ever cared for me like Jesus. Steffany Gretzinger.  https://youtu.be/wapXZkU-jFM

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *