Soos ouder gewoonte word die Kersboom opgeslaan. Mooi opgemaak, maar met net een klein probleempie. Ons het skoon vergeet dat Kleinsus die silwer engeltjie verlede jaar op sy kop laat val het. Ons 3 girls hou toe span vergadering en besluit ons sal die engeltjie vervang met ‘n silwer ster.
Terwyl Ousus ballet, ry ek en Kleinsus van winkel na winkel… Geen ster in sig nie. Ek is mos ‘n boer-maak-‘n-plan tipe meisie, so met die intrapslag by die huis loop ek deur die huis op soek na iets wat die Bethlehem ster, of die engel kan vervang. Ek kom toe op ‘n wit gebreide hart af en besluit net daar en dan, vir hierdie jaar sal die wit hart maar moet deug. My man glo daar is baie min dinge wat jy nie kan fix met ‘cable ties’, Q20 en ‘ductape’ nie. So word die wit hart sommer onseremonieël met ‘n ‘cable tie’ vasgemaak.
Elke keer as ek verby die Kersboom loop dan voel dit vir my kompleet die hart wil eintlik ‘n storie vertel. ‘n Storie van liefde. Van ‘n God wat sy kinders so lief het dat Hy sy enigste Seun aarde toe stuur (Joh.3:16) as ‘n klein, weerlose, babaseuntjie gebore te word. Die hart verteenwoordig ook die liefde wat ons het vir ons hartsmensies maar ook ons medemens wat ons ongeveins, van harte en vurig lief moet hê. (1 Pet.1:22) Mense om ons wat smag na die liefde van ‘n God wat omgee.
Ja, die Bethlehem ster is ‘n onlosmaaklike deel van die Kers verhaal, maar dis nie die belangrikste deel nie, ook nie die Engel wat die geboorte aankondig nie. Die belangrikste deel van Kersfees is liefde. God se oorweldigende, omvattende liefde vir jou. Watter beter geskenk kan jy aan God gee as jou hart- jouself- as ‘n lewendige Heilige offer. (Rom. 12:1) Meer as enige iets anders soek God verhouding met jou. God vra nie baie nie… God vra alles.
Terwyl ek so na die wit hart kyk dink ek sommer aan die simboliek van die wit hart. ‘n Tienermeisie, ‘n maagd, wat geboorte skenk aan die Koning van die heelal. ‘n Klein seuntjie wat sondeloos, vlekkeloos in die wêreld inkom. 100% mens, maar ook 100% God. Hoe ons harte daarna uitsien wanneer ons leef onder die vergifnis-mantel van genade.
Ek vra vir Kleinsus so in die verbygaan waaraan dink sy as sy so na die wit hart kyk? Kleinsus dink aan die liefde van ‘n gesin en reinheid en skoonheid… so ewe die betekenis van haar naam. Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Matt. 5:8) Ousus sê sy dink aan ‘n blanko bladsy, ‘n oorbegin, ‘n weer begin. ‘n Nuwe hart en ‘n nuwe gees. (Eseg. 11:19) Ek vra vir wederhelfte wat sien hy as hy na die wit hart kyk… Hy sien net ‘n wit hart. Ai!
Die wit hart is vlekkeloos, spierwit. God gee vir jou genade, vergifnis, liefde… Steek net jou hande uit en ontvang dit. Vat dit vir jouself, maak dit jou eie. Dit is die grootste geskenk van Kersfees, moenie die geskenk onoopgemaak onder die Kersboom laat stof vergader nie.
Van my hart na jou hart, van my gesin na jou gesin: ‘n baie Geseënde Kersfees. Mag jy God se liefde en omgee in hierdie Kers-seisoen op ‘n besonderse wyse ervaar. Dat Hy vir jou is en nie teen jou nie. (Rom. 8:31) Dat jy meer as ‘n oorwinnaar is omdat Hy jou liefhet. (Rom. 8:37) Niks kan jou ooit skei van God se liefde vir jou nie. Niks kan jou weghou van Vader se hart nie.
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Rom. 8:38-39)
So so mooi!! Mag julle ‘n heerlike kersfees he!!
Ps: lekker gelag vir man lief se siening oor die hartjie… Tipies man haha!!!
Liefse xx
Ja nee… hulle is almal uit dieselfde stoffasie gemaak… dis hoekom ons so lief is vir hulle.
Ons kan net vra: Jesus gee vir my n rein hart- n wit hart. Dankie Martha Geseënde Christus Fees.
… en as ons vra is dit presies wat Hy vir ons sal gee… ‘n rein hart.
Amen!! Geseende kersfees met woorde of prentjies word so vinnig versprei op sosiale media..dat dit soms net nie met erns opgeneem word nie.
Die woorde is so waardevol. Ek hoop jou en jou familie was geseend die kersfees. Dankie vir jou mooi dagstukke. Orne
Dankie vir jou mooi woorde Orne.