Dit was nie die stukkie wat ek vandag wou ‘gepost’ het nie, maar God het dit op my hart gedruk om te skryf oor self vergifnis. Om jouself volkome te vergewe. Miskien praat ek vandag nie spesifiek met jou nie, en dis goed so, maar miskien is hierdie boodskap spesiaal vir jou: van God se hart na jou hart.
Wanneer dit by vergifnis kom is daar drie belangrike goed vir my hart om vrede te hê, vir my liggaam, siel en gees om in harmonie te wees: Ek is vergewe, Ek vergewe die wat my te na gekom het, maar bowenal, ek vergewe myself! Wanneer dit by self-vergifnis kom is die toffie nogals taai om te kou. Dis groter as ‘n Wilson toffie wat jou tandstopsel uittrek, dis eintlik meer soos ‘n Nicker ball wat jou tand summier in twee breek.
Het dit nie tyd geword dat jy en selfkastydinge ophou rondomtalie speel nie? Dis darem sleg om van die rondomtalie af te klim en jy is dronk en naar en jy voel sommer bleek. Nou is my vraag aan jou: Hoe hou mens op om so te voel? Dis eintlik so eenvoudige, voorhand liggende antwoord… Bly weg van die rondomtalie af. Jy hoef nie op die rondomtalie te wees nie. Klim af en bly af!
So nou vra ek myself af: Het dit nie tyd geword om van die rondomtalie af te klim en net sê: Ek is klaar met jou nie? Romeine 8:1 sê daar is nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Ek het die genade-geskenk oopgemaak, sluit die genade nie ook ruimte in vir self-vergifnis nie? As jy jouself nie kan of wil vergewe nie, is dit om die geskenk van genade te ontvang, maar dit vir jare onder in jou kas weg te steek want jy voel so onwaardig om die geskenk oop te maak.
Ons staan almal bietjie rooi gesig en kop onderstebo voor die God van die hemel en aarde. Dit kan dalk wees dat jy iets gedoen het wat jy voor jou siel geweet het teen God se wil was, of miskien in die hitte van die stryd het jy iets gesê wat die Koninkryk van God groot skade aangedoen het. Ek weet nie hoe jou onvergewensgesindheid teenoor jouself jou verhouding met God en met die mense om jou beinvloed het nie, maar dit weet ek wel, as jy verfignis gevra het is jy vergeef. Punt. Einde van die gesprek. Kan dit so maklik wees? God vergeef en vergeet. As jy nou in Sy troonkamer insluip en sê: “God, kan ons weer gesels oor die Groot Sonde van 10 jaar gelede?” Weet jy wat gaan God vir jou sê: “My liewe kind, Ek het nie ‘n idee waarvan jy praat nie…” As God ons so volkome vergeef, hoekom kan ons dit dan nie in ons harte kry om onsself te vergewe nie?
Is dit nie bietjie soos om God se genade in Sy gesig terug te gooi as ek en jy onsself nie kan vergewe nie? Kan ek jou vra? Wie verlekker hom in jou self-kastyding, jou onvermoë om jouself te vergewe? Die mannetjie met die horings. Hy is so opgewonde dat jy jouself nie kan vergewe nie, want sien dit gee hom lekker ammunisie. Wie dink jy is die een wat jou die heeltyd herinner aan ‘Die Groot Sonde’? As dit beslis nie God is nie, wie anders as die vyand wat wil steel, slag en uitroei? (Joh. 10:10) As hy weer op jou skouer kom sit en allerhande snert in jou oor fluister… Moet nie eers jouself probeer verontskuldig nie, stuur hom net eenvoudig weg.
Johannes 8:32 sê so mooi: die waarheid sal ons vry maak. Hier is die waarheid. Jy is vergewe. God het jou lief, jy is uitverkies, jy is die kroon van Sy skepping. God weet in elk geval alles van jou, vra Hom om jou te help om jouself te vergewe. Is dit so eenvoudig? Dit is so eenvoudig.
Jy is inderdaad vry. (Joh. 8:36) Nou moet jy dit net glo en jou eie maak. Kom vry onder die juk van onvergewensgesindheid teenoor jouself. Kom vry onder die juk van selfkastyding. God het jou te lief om jou so te sien suffer… Onnodiglik. Onthou jy is nie vergewe omdat jy ewe skielik hoog heilig en perfek is nie, nee ek en jy is oppad maar het nog nie naastenby gearriveer nie. Ons perfeksie is in verfignis. Dit het niks met jou en my te doen nie, maar alles te doen met die groot genade van God en die kruisdood van ons Koning Jesus.
In order to heal, we must first forgive… and sometimes the person we must forgive is ourselves. Mila Bron
Baie dankie Martha dit was so nodig.
Vergifnis van ander is liefde, vergifnis van God is genade, en vergifnis van onsself is wysheid. (Anoniem)❤️
Vir my geskryf. Dit is pragtig. Dankie M
Dan was elke minuut wat ek die stukkie geskryf het oor en oor die moeite werd…