Ek weet nie wie het wat aan jou gedoen nie. Miskien het jy ‘n hele lys van mense wat jy moet vergewe. Miskien is daar net daai een persoon wat jy nog nie reg is om te vergewe nie.
Vergifnis vir my is iets wat jy vir jouself doen en nie noodwendig vir die ander persoon nie. Onvergewensgesindheid is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood. Maar wie is besig om dood te gaan van binne? Die weiering om ‘n persoon te vergewe is om jouself in ‘n tronk toe te sluit en boonop die sleutel weg te gooi. Weereens, wie is in die tronk?
Jesus sê: “Nie sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer” (Matt. 18:22) Hoekom moet jy ander die goed vergewe wat hulle jou aangedoen het? Vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. (Ef. 4:32) Ek en jy moet vergewe omdat ons vergewe is. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. (Kol. 3:13)
Onvergewensgesindheid is soos ‘n kanker wat aan jou vreet, dit doof die lig in jou siel uit. Dit maak jou ‘n verbitterde mens wat weier om die goeie in ander mense raak te sien. Kortom… onvergewensgesindheid dryf ‘n wig tussen jou en God in.
Regtig, eintlik is daar nie ‘n keuse nie. Daar is min goed wat so bevrydend is as om te vergewe. Sien in my kop werk dit soos volg: Die oordeel kom my mos nie toe nie, so as ek die persoon vergewe beteken dit nie dit wat jy aan my gedoen het is maar okay nie, nee dit beteken ek laat die oordeel aan God oor. Ek meng nie in met God se goddelikheid en werk nie. Ek neem ‘n bewustelike besluit om die boeie van nie-vergewe nie langer saam met my te sleep nie. Ek maak myself vry deur te vergewe…
Hoe vergewe ek die ander persoon? Maklik? Nee beslis nie maklik nie. Moet ek dit vir die persoon gaan sê: “Ek vergewe jou” miskien is dit wat jy moet doen. Of dalk is dit iets tussen jou en God. Jy laat gaan en laat God… Miskien is dit nie so moeilik nie, dalk kan jy net daar waar jy sit fluister: Abba ek vergewe vir … Jy is dalk al so moeg gedra aan hierdie onvermoë om te vergewe. Is dit nie tyd nie?
Ek het lank terug ‘n baie ‘onregverdige’ versie gelees in Matteus 6:15: Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. Ek moet erken ek het bietjie gesukkel om te verstaan hoe ‘n genadige God so uitspraak kon maak. Dis asof mens bietjie astrant en opstandig wil word en sê: “God, maar U weet baie goed wat daardie persoon aan my gedoen het” Hier is die ding: Watter baie goed moes jy al rooi in die gesig voor askies gaan sê by jou Hemelse Pa?
Wat van vergewe en vergeet? God is God, Hy vergewe en vergeet en dink nie meer aan jou sonde nie. (Jes. 43:25) As mens dink ek dit is nie so eenvoudig nie, maar die onthou kan in die agtergrond verdwyn soos die jare aanstap. Dit sal nie meer so fel wees nie, jy moet ook bewustelik besluit om jouself nie daagliks te herinner aan die onreg wat jy aangedoen is nie.
Weet jy wat se herstel, genesing en harmonie bring vergifnis?Daar is ‘n persoon wat ek ook moes vergewe, soos ons almal al moes. Ek het nie na die persoon gegaan en gesê: “Ek vergewe jou” nie. Dis iets wat ek met die hulp van God kon uitsorteer en ek kon die persoon volkome vergewe… Dit het tyd en trane gevat. Vergifnis vra altyd iets van mens, maar hier is die ding: Ek wou meer hê, ek wou hê die verhouding moes herstel.
Vir ‘n verhouding om te herstel moet daar ‘n verandering in houding wees. ‘n Paar jaar terug sit ek voor hierdie persoon, wie ek intussen volkome vergewe het, en terwyl ons nog so sit en gesels vul God my met ‘n warmte en ‘n liefde vir die persoon oorkant my wat net van Hom af kan kom. Het die persoon verander intussen? NOPE. Het ek verander? Ek wil graag so dink.
Wat ek eintlik vandag vir jou wil sê is die volgende: Jy is dit aan jouself verskuldig om te vergewe. Moenie langer onder die juk van onvergewensgesindheid gebuk gaan nie. Dit het tyd geword om die kettings om jou hart te breek en te leef…
Forgiveness is the fragrance that the violet sheds on the heel that has crushed it. (Mark Twain)
Absoluut, om gesond te wees in siel, gees en liggaam moet jy vergewe