Veilig in die Arms van Liewe Jesus.

Opgedra aan die wat moet agter bly.

My ouma is verlede jaar in Junie oorlede. Dit was nie ‘n groot skok nie, eerder ‘n verligting. Ouma was moeg, oud, op en gedaan. Dit was ‘n goeie tyd om huistoe te gaan. Op 94 het sy genoeg hartseer en swaarkry vir ‘n leeftyd gehad, maar ook genoeg vreugde en vrede.

My ouma Martha het my so baie dinge geleer, een van dit was hoe om in afhanklikheid van jou Maker te leef… en sy het met voorbeeld gelei. Sy het elke môre en elke aand vir haar 2 dogters, 8 kleinkinders en 17 agterkleinkinders by die naam gebid. Ek onthou toe ons klein was, was daar altyd ‘n wêreldkaart in haar kamer vol vlaggies… sy het letterlik vir die hele wêreld gebid.

Ek was erg oor hierdie ouma van my na wie ek vernoem is. Sy was my voorbeeld, ‘n vrou so reg uit Spreuke 31. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie, sy kon alles doen want haar krag het gekom van die Een wat haar gemaak het… en niemand het dit beter geweet as sy nie!

Ouma het die laaste paar weke van haar lewe begin Engels praat, net Engels. Vir almal wat in haar kamer ingekom het, het sy ‘Jesus loves me’ gesing…met haar krakerige oumens stemmetjie. Dit was die opsomming van haar hele lewe hier op aarde… haar getuienis. Die lewe het alles van haar gesteel, haar jeug, haar gesondheid, haar krag, maar haar geloof, dit was hare tot op die heel einde. Haar geloof en haar Liewe Jesus aan wie sy tot die end verbete vasgeklou het.

Ek sal haar Liewe Jesus altyd diep dankbaar wees vir die voorreg om drie dae voor haar dood te kon gaan groet… ouma was met tye al toe semi komateus, baie slaperig. Ek het nie veel verwag van die kuier nie, ek wou net my ouma sien… maar groot was die wonderwerk toe ouma kierts regop in die bed sit.

Ons het lekker gesels… in Engels. Sy het gesukkel om my te plaas, maar dis okay. Ek het vir haar Psalm 23 gelees en sy wat niks of niemand meer lekker kon onthou nie het dit saam met my opgesê. Hierdie ouma van my het die Herder van Psalm 23 persoonlik geken.

Die laaste paar weke van ouma se lewe kon sy nie meer bid nie, die gedagtes was te deurmekaar, maar sy was altyd bewus van Hom wat haar nooit verlaat het, haar nooit ooit in die steek sou laat nie.

Ouma het die laaste paar weke deurgebring in die arms van haar Liewe Jesus, sy het rus gevind by Hom, sy het niks meer nodig gehad nie. Sy kon net wees by Hom vir wie sy so bitter lief was. Sy het vir HOM gehad en dit was genoeg… dit was alles. As ek my oë toemaak kan ek sien hoe Hy haar kom haal het, hoe Hy haar teer in Sy sterk arms opgetel het en haar huistoe gedra het… na haar ewige tuiste.

Met ouma se heengane was daar weer ‘n diepe bewustheid in my hart dat ‘n doodskleed nie sakke het nie, jy kan niks saamvat nie. Soos jy in hierdie lewe ingekom het so gaan jy weer daaruit, maar daar was ook ‘n dieper besef dat al wat regtig saak maak is Jesus en jou geloof in Hom. Hou vas aan Jesus liewe vriendin, wanneer jou bootjie op die storms van die lewe wil-wil omkantel. Hou net vas… Hy het jou!

Jesus Loves Me.

Jesus loves me! This I know,

For the Bible tells me so;

Little ones to Him belong;

They are weak but He is strong.

Yes, Jesus loves me,

Yes, Jesus loves me,

Yes, Jesus loves me,

The Bible tells me so.

Tot weersiens liefste ouma…

 

 

 

8 Replies to “Veilig in die Arms van Liewe Jesus.”

  1. Martha, dis pragtig!
    Ek hwt nie woorde nie… Hulle maal in my kop!
    Ek het nog nooit iemand so na aan my aan die dood afgestaan nie… Maar ek voel jou hart.
    Lief jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *