
Is jy ‘n prentjie mens? Ek is nogals. Dink bietjie aan ‘n foto van ‘n koei wat rustig in die groenste gras staan en herkou… nie ver van die koei speel twee bruin gevlekte kalfies baldadig in die lang gras wegkruipertjie. Die kanola velde staan vol in die blom so ver soos die oog kan sien. Dis wat jy sien… perfeksie, vrede. Dis Facebook…
Die anderkant van die teerpad lyk so effe anders, want sien die melkery wat daagliks 3000 koeie melk is oorkant die pad geleë. Dis brommers en vlieë waar jy kyk, die mishope lyk soos berge en jip jy het reg geraai, dit ruik ook nie so baie lekker nie. Na die onlangse reën is dit natuurlik een groot modder-gemors. Dit my liewe vriendin is realiteit.
Ons kan soms so jaloers wees op wat ons sien op sosiale media, want sien jy die klomp Venters ploeter al weer oorsee rond en kyk net hoe oulik lyk haar kinders op die foto, en sy, sy lyk so gelukkig en tevrede en agtermekaar … en en en…. Maar sien dis die ding. Ons sien net die koei en die kanola lande in die prentjie, nie die mis of die vlieë nie, want ons is tog net so bang mense sien ons lewens en ons prentjies is nie altyd so perfek nie. Hoeveel onvleiende profile pics het jy al gesien? Nee ons neem daai profile pic, met ons asems ingetrek, dubbelken mooi netjies weggesteek.
Baie dieselfde as jy deur jou gunsteling tydskrif se dekor afdeling blaai. Alles is so perfek, skoon, nuut en pragtig. Besef jy daai huis lyk nooit weer dieselfde nie, dit lyk net so as die span skoonmakers deur hom is en die finale touches deur die binnehuisversierder gemaak is. Jy weet: regte plooi in die kussing, oop tydskrif met ‘n koppie warm tee… Jy sien presies wat hulle wil hê jy moet sien. Sit nou jou spannetjie kids deur daai huis met taai vingertjies en vuil voetjies! Jy sal daai plek nie ken nie.
Sê nou maar eendag sê God kom bring jou bondeltjie menswees en kom gooi dit op ‘n hoop en nou kan jy enige een se bondeltjie optel. Jy kan in werklikheid daai perfekte lewe kies… dit jou eie maak. Soos dit maar in die lewe gaan is daar ‘n vangplek, jy kry die mis en die brommers by nie net die oordadige gelukkigheid wat op sosiale media te siene is nie. Die seer, die pyn, die hartseer, die kanker, donker tye, moedelose tye, alles. Wat sal jy kies? Wie se onvolmaakte bondel sal jy kies? Of gaan jy maar soos ek bloedrooi in die gesig vorentoe tree en ewe gedweë my eie bondeltjie weer uitkrap tussen al die bondels?
Weet jy wat sê God vandag vir jou? “Bring jou onvolmaakte bondeltjie menswees nader liefste kind, kom los dit by My voete, Ek sal jou bondeltjie hartseer, pyn en mismoedigheid ten goede vir jou laat meewerk. Ek sal dit ruil vir vrede wat jou verstand te bowe gaan, blydskap en tevredenheid.”
Hebreërs 13:5: Hou jou lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat jy het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Kan ek die versie vir jou in eenvoudige Afrikaans vertaal? As jy baie het, maar jy ken nie vir God nie, het jy NIKS. As jy tevrede is en God loop saam met jou op jou lewenspad, dan het jy ALLES, want Die Here is jou Herder, jy liefste vrou na aan God se hart, kom NIKS kort nie. (Psalm 23:1)

O my genade… Dis asof my hart nou oopgeruk is… Mens besef nie waarna ons as, veral ouer, vrou kyk nie… Altyd dankbaar maar tog vergelyk ek. Dankie!!
Ek dink ons almal doen dit outomaies Orne. Ons vergelyk en ons voel of ons altyd te kort skiet! ❤️
Amen!
Pragtig!!!
🌹Dankie Skoonsus. Ek bid dat Jesus ons oë sal oopmaak, sodat ons sal ophou om die leuens van die vyand te glo!
Ahhhh wow!! Net weer vir my bedoel! Dankie Martha-vriendin! Jyt ‘n gawe van skryf uit die hart… ❤️
❤️ Dankie Lizbe!
Sjoe jy het darem net ‘n manier om ‘n boodskap oor te dra!!! ek love hierdie soooooo baie en presies wat ek nodig gehad het om te hoor xx
Nie my woorde nie, maar Sy woorde…✝️️