Dit was een van my ouma Martha se gunsteling sê- goed: Blom waar jy geplant is. Die geheim is om die beste jy te wees wat jy kan wees in alle en enige omstandighede. Jou beste is nog altyd genoeg, selfs vir God. Ek hoor jou… soms is dit moelik om die BESTE jy te wees in die alledaagse bestaan van jou lewe. Die alledaagse lewe kan tog so saai en eentonig wees… so elke dag dieselfde storie oor en oor. Kos, skottelgoed, werk, kinders rond ry. Weet jy wat is die geheim? Om vreugde te vind in die alledaagse dingetjies.
Wat jy ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie. (Kol. 3:23) God het aan elkeen van ons ‘n spesifieke, unieke stel talente en gawes gegee. God sal nie van jou verwag om jou sang te gebruik om Sy koninkryk te bevorder as jy eintlik toondoof is nie. Gaan ontdek jou gawes en talente en dan sal God se droom en plan vir jou lewe soveel meer sin maak… en die bonus… jy sal vervuld en gelukkig daarna uitsien. Gee jouself oor aan God se plan vir jou lewe. Ek wed op die wagkamer van jou lewe staan…WATCH THIS SPACE!!
Soms is die vreugde wat ons daagliks ervaar in iets so kleins soos om vir iemand iets te beteken. Moenie iets vir iemand anders doen om raakgesien te word nie. Nee as jy iets vir ander doen of gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. (Matt. 6:3) Doen dit stilletjie, ongemerk, anoniem dan kan net God die krediet daarvoor kry. Hoe kan jy iets beteken vir iemand? Vind by jou klasonderwyser uit of daar dalk ‘n kind in die klas is wat finansieël sukkel. Stuur skryfbehoeftes toegedraai in ‘n lintjie toe met die woorde: Jesus het jou lief. Gooi ‘n Christelike tydskrif in jou buurvrou se posbus met ‘n bemoedigende woord. Klein gebare wat groot impak het. Onthou: ‘n Glimlag teenoor ‘n vreemdeling is verniet…
Dit is God wat jou gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer. Tree onder ander op as ligdraers vir die wêreld. (Fil 2:13) Besef jy, jy is soms die enigste straaltjie lig tussen mense in ‘n andersins pikdonker wêreld? Tree dan so op kind van Jesus. God het nie geheime agente nodig nie. Laat dit wat jy sê en doen direk in lyn wees met God se woord.
Leer om weer goed te doen. (Jes. 1:17) Aangeleerde gedrag, dis nie inherent in ons natuuur om ander te help nie. Dis ‘n bewuste besluit om ‘n dankbare lewe te lei en uit dit uit kom die goeie werke. Is geloof sonder goeie werke nie maar eintlik net ‘n dooie geloof nie?
1 Korintiërs 7:17 sê dit so mooi: Bly in die omstandigheid wat die Here vir jou gegee het. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. (Ef. 5:16) Sê nou maar ek blom hier in die stukkie grond waar ek geplant is, en jy blom in die stukkie grond waar jy geplant is. Dit sal lyk soos die Weskus in Lente in sy volle blommeprag en glorie. Dit sal die wêreld ‘n beter plek maak. Een blom wat in die Weskus blom is nie baie indrukwekkend nie, om die waarheid te sê wie gaan die een blommetjie raak sien?
Onthou: ‘n Kaktus het ook ‘n blom, mooi om na te kyk en bewonderingswaardig, maar sleg om aan te vat… moenie ‘n kaktus wees nie.
Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam voor lewe voor jou God. (Miga 6:8) Hoe lyk ‘n bedagsame lewe voor God? Dit is wanneer jy jou kop bewustelik optel en met nuwe oë na die wêreld om jou begin kyk. Liewe vrou na aan God se hart, het dit nie tyd geword dat jy begin blom net daar waar God jou geplant het nie?