God het darem ‘n wonderlike sin vir humor. Ek lees gister die stukkie in Psalm 32:8-9 in The Passion Translation. I hear the Lord saying, “I will stay close to you, instructing and guiding you along the pathway for your life. I will advise you along the way and lead you forth with My eyes as your guide. So, don’t make it difficult; don’t be stubborn when I take you where you’ve not been before. Don’t make me tug you and pull you along. Just come with me!”
Hoor jy wat God sê? “Kom saam met My, My planne vir jou is groter en beter as wat jy ooit kan dink of droom.” Moet dit nie vir jouself moeilik maak nie, God wil jou nie saamsleep na waar jy moet gaan nie, maar Hy sal as Hy moet, want Hy het jou heeltemal te lief om jou net te los. Jou net te los sodat jy net kan voortploeter in jou alledaagse bestaan. God sal jou agternasit, oor berge en dale agter jou aankom, mure afbreek, leërmagte verslaan… Dit sal Hy alles doen net vir jou!
Die ’83 vertaling in Psalm 32 praat van ‘n muil of ‘n perd wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word. Klink nie lekker nie… as ek aan ‘n donkie of ‘n muil dink dan kom die woorde hardkoppig, eiewys, domastrant en aspris by my op. ‘n Donkie se samewerking kom nie vanself nie, hy foeter graag in die teenoorgestelde rigting in, deel ‘n paar slinkse skoppe en venynige byte uit as hy nie van jou hou nie. Moenie ‘n donkie wees nie…
Wat sê ek nou eintlik? Wat is die punt vra jy… dis eintlik heel eenvoudig as jy soos ‘n donkie optree gaan jy soos ‘n donkie behandel word. God wil nie aan jou trek en rem om in die rigting in te gaan wat vir jou bestem is nie. God se planne vir my en jou is goed. (Jer. 29:11) Hou op viervoetig vassteek soos ‘n domastrante donkie.
God wil jou na plekke en hoogtes vat waar jy nog nie was nie. Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (Jer. 33:3) Miskien moet ons maar net in ons hardkoppigheid op onse twee kniekoppies neerval en bely: Ek is moeg vir hierdie donkie-besigheid, ek is moeg om nie U plan vir my lewe te leef nie. Lyk my ek en my donkie maniere is toe nie die beste nie. Help my om te gaan waar U my lei, help my om te doen wat U wil, volgens U wil. Amen.
Ek weet daar is baie van julle wat nou hier lees wat sê ek is nie ‘n donkie nie, maar ek weet steeds nie wat die plan is nie. Luister gou-gou hier: die deur wat toegemaak het, daar het reeds ‘n ander een oopgemaak. Dit help niks jy bid vir maande aaneen voor die oop deur nie. Dis daar reg voor jou. Jy moet bid en gaan nie bid en sit en hoop vir die beste nie. Alle groot drome en planne begin by ‘n stap 1, begin net.
As daar nie ‘n plan/droom is nie, dan moet jy dalk die Droomgewer beter leer ken, leer ken Sy hart vir jou. Hoe leer ken jy iemand beter? Jy praat met hulle, deel met hulle… presies dieselfde as jy God beter wil leer ken, praat met Hom oor alles en nog wat. As jy sukkel om te ‘hoor’ lees Sy Woord, die hele Skrif is deur God geïnspireer, daar is min maniere so effektief om te hoor wat God sê soos om Sy Woord te bestudeer.
God begeer meer as enige iets anders verhouding met jou. Dit gaan oor Hom en Sy Koninkryk. Jy kan net ‘n doelgerigte lewe, lewe wanneer jy binne die wil van die Koning leef. Ek dink dit het tyd geword dat ons voor die Koning van die Heelal se voete gaan neerval en terugkeer na Hom toe… as ek so na die wêreld om my kyk dan besef ek al meer ek het vir God nodiger as ooit en dat my donkie maniere nie die ding gaan doen nie.
So my gebed vandag is dat die Droomgewer Sy droom vir jou lewe sal openbaar. Sodat jy die vrede en vervulling kan beleef wat daar te vinde is wanneer jy, binne die wil van die Koning van die heelal, Sy droom vir jou lewe begin leef.
So kosbaar 💛
💛 Die middelpunt van God se wil is ons enigste veilige hawe. (Betsie ten Boom)
Sjoe. Dis mooi!
✞ Al val die hemel, laat U wil geskied. (Thomas Browne)
Dis pragtig Martha. Mag ons almal doen wat God wil en nie wat ons wil nie.
So waar Tannie.🌼 Deur God se wil te doen ervaar ons vrede. (Dante)
Ongelooflik mooi. Skrikwekkend waar. Ons WIL mos wat ONS wil. En ons raak pootuit moeg en moedeloos van stoei om in ons eie rigting in te neuk. Dankie Vader dat U deur Martha se skrywe hierdie brood nodige vermanings by ons kry.
🙏 Gee my geduld om te wag totdat U by my is. Toon my U wil, en laat my wil ooreenstem met U wil. Wees U my krag, wees U my vrede, wees U my weg. Ek dank U dat U by my is. (Johannues Hus)