Die Droomgewer.

Die Woord van God het soveel mooi voorbeelde van gewone vroue wat God op ‘n besonderse manier gebruik het. God gebruik ‘n ongetroude, jongmeisie om die Ma te wees van Sy eniggebore Seun. Ester die weeskind word Ester die Koningin wat haar volk red van gewisse dood. Debora raak op ‘n tyd wat vrouens nie hoog geag word nie, die leier van die Israeliete, ‘n profetes en boonop ook die aanvoerder van ‘n hele leërmag.

God gebruik gewone vroue soos ek en jy om Sy hande en voete op aarde te wees. Ons vergeet so maklik dat die Heilige Gees van God binne ons woon. Dieselfde opstandingskrag wat Jesus uit die dood opgewek het is binne my en jou.

Jy is volgens die besluit van God geroep. Uitverkies. (Rom. 8:28-29) Jy is geroep vir ‘n doel om ‘n doelgerigte lewe te leef. God se plan vir jou lewe is volmaak en wanneer jy in die volmaaktheid van God se plan vir jou lewe leef het dit vrede, geluk en tevredenheid tot gevolg. Miskien moet ons ophou om verskonings te maak, miskien het dit tyd geword om uit ons bootjies te klim en die eerste treetjie op die water te gee.

Het jy al ‘n droom gehad so groot dat dit jou ongemaklik en sommer bietjie bang gemaak het? Ek weet dis ‘n ongemaklike affêre die droom ding, maar dis die tipe drome wat God vir jou het.

Is jy bekommerd dat jy nie opgewasse is vir die taak nie? Moenie komkommer nie God gee indiensopleiding… Hy sal jou nie net aan jou eie lot oorlaat nie. Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; het Ek jou aan My gewy. (Jeremia 1:5) Nog voor jou geboorte het God se droom vir jou al gestalte aangeneem.

Lank voor ek eers gedink het om ‘n blog te begin, en net so terloops om ‘n blog te begin was verseker nie my droom nie, het God met my indiensopleiding begin. Eers was dit foto’s, ek het letterlik duisende foto’s geneem. Na die foto seisoen het die versie seisoen begin. God het my so honger gemaak vir Sy Woord, daar was beswaarlik ‘n kombuis- of kasdeur wat nie vol versies geplak was nie. Ek het begin skryf aan ‘n boek, dit klaar geskryf, en na 6 uitgewers vir my dankie, maar nee dankie gesê het, het ek by God se voete gaan sit. Bietjie moedeloos, bietjie hopeloos, defnitief ‘n resep vir ‘n ernstige verlies aan selfvertroue. Ek kan nie regtig sê hoe dit gebeur het nie, maar ewe skielik was die blog daar, met die hulp van ander wat sommer net oor my pad gekom het.

Die blog is ook nie regtig my gemaksone nie, ek moet weekliks vertrou dat God ‘n plan het met die blog… Sy blog. Elke Donderdag klop my hart lekker vinnig voor ek die gevreesde “publish” knoppie druk.

Dalk moet ons bietjie terugstaan en God toelaat om Sy droom in ons te leef. Sy drome vir my en jou is soveel beter as wat ons ooit kan dink of verstaan…

Soms bevind ons, ons in die wagkamer. ‘n Tydperk van wag en voorbereiding sodat God die droom wat Hy vir ons het kan verwesenlik. Die wagkamer vra van jou om stil te wees en te vertrou dat God wel ‘n plan en ‘n droom vir jou lewe het. Hy laat immers alles gebeur volgens sy raadsbesluit. (Ef. 1:11)

God se drome vir ons is ook nie die ‘one size fits all’ tipe drome nie. God weet waartoe jy in staat is. God ken jou beter as wat jy jouself ken. Here U sien dwarsdeur my, U ken my. (Ps. 139:1)

Ek weet nie waar jy tans staan met God se droom vir jou lewe nie. Is jy dalk tans besig met jou indiensopleiding? Miskien staan jy voor die deur van die wagkamer, of jy bevind jouself pens en pootjies in die wagkamer. Miskien leef jy reeds God se droom vir jou lewe uit… waar jy jou ookal bevind… bid ek saam met jou dat God Sy seën oor jou sal uitstort, jou grondgebied sal vergroot en jou onder Sy beskerming sal inneem en jou weerhou van onheil, sodat geen smart jou sal tref nie. (1 Kron. 4:10)

12 Replies to “Die Droomgewer.”

  1. “Ek weet nie waar jy tans staan met God se droom vir jou lewe nie. Is jy dalk tans besig met jou indiensopleiding? Miskien staan jy voor die deur van die wagkamer, of jy bevind jouself pens en pootjies in die wagkamer. Miskien leef jy reeds God se droom vir jou lewe uit… waar jy jou ookal bevind… bid ek saam met jou dat God Sy seën oor jou sal uitstort, jou grondgebied sal vergroot en jou onder Sy beskerming sal inneem en jou weerhou van onheil, sodat geen smart jou sal tref nie. (1 Kron. 4:10)”

    Ek neem dit!! Baie baie dankie Martha! Jy is ‘n besonderse vrou met ‘n pragtige hart en dankie dat jy so getrou week na week is en hierdie met ons deel. Ek so baie uit na Donderdae se whatsapp – vir die link na hierdie blog!
    Jy bless my! Liefde xx

  2. Martha, jou blog is ‘n inspirasie! Mal daaroor om dit te lees! Dit is amazing hoe God jou gebruik en so ook elkeen van ons wat lees.
    Hou aan skryf. Binne God se plan is jou blog tot seën van ander.

  3. Dit is so gepas vir waar ek staan en ek waardeer jou vulnerability – dit gee my hoop en ook ‘n bevestiging om net rustig te raak en te wag. He is faithful, His plans are perfect and good. Jy bless my ⭐️

    1. Amen! ✞
      “What delight comes to you when you wait upon the Lord! For you will find what you long for.” (Matt. 5:4 The Passion Translation)

  4. Ai, woorde alweer NET vir my bedoel… Dankie liewe Martha! Die wagkamer is nie ‘n lekker seisoen nie, jy voel asof daar regtig nie ‘n droom vir jou is nie – nie wat God vir jou droom nie en ook nie wat jy vir jouself droom nie… Maar jyt my weer vandag kom herinner aan die goeie nuus en dit is DAT DAAR WEL ‘N GODDELIKE DROOM VIR ONS ALMAL IS! Ons moet net bly glo en vertrou… Op SY tyd sál Hy daardie wagkamer se deur oopmaak…

    1. Liefste vriendin, die wagkamer is beslis ‘n seisoen van stil wees en vertroue hê in God se plan vir ons lewens.✞

      Die wil van God sal jou nooit neem waar die genade van God jou nie sal bewaar nie. (Anoniem)

  5. Ek voel of ek op die oomblik nie ‘n droom het nie of ek êrens langs pad my droom verloor het of dalk soos jy sê my selfvertroue om te droom.

    Ek is rerig bly vir jou dat jy die “nee dankie”, “n dankie” geword het op’ n ander manier. Ek glo jy raak die mense aan wat God wil hê jy moet. En speel dalk ‘n rol in ander se drome

    1. 💐 Liewe vriendin, ek het aan jou gedink toe ek die stukkie gelees het:
      God se kreatiwiteit is eindeloos. Hy neem nooit sy toevlug tot massaproduksiekopieë nie. Dis of Hy nooit moeg word om nuut te skep nie; inteendeel, hy bly nougeset voldoen aan die streng eise wat kreatiwiteit aan Hom stel. Elke lewe is ‘n vars skilderdoek waarop Hy lyne en kleure, lig en skaduwees, teksture en verhoudings gebruik wat Hy nog nooit voorheen gebruik het nie. (Eugene H Peterson)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *