Wees stil! Ek sal vir jou veg…

Dankie K vir die mooi prentjie.

Die uittog uit Egipte is in volle swang, 600 000 Israeliete wat te voet vlug. Grootmense, mammas met skreunde babas, kriewelrige kleuters, klaende tieners, oumas en oupas wat sukkel om die pas vol te hou.

Die Here lei die Israeliete uit Egipte uit en skielik is hulle vasgekeer. Oos en Suid van hulle is berge, voor hulle lê die Rooisee en uit die Noorde storm die Egiptiese weermag met strydwaens en al op hulle af… wat sê God? “Bly julle maar kalm Ek sal vir julle veg.” (Eks. 14:14) Miskien moet jy vandag hoor daar waar jy voor jou Rooisee staan. Wees stil, bly kalm die God van die heelal veg vir jou, veg namens jou.

Wat God vir die Israliete gedoen het, doen Hy steeds vandag vir my en jou. Hy beveel: trek verder, hou aan beweeg. Moenie in ‘n bondeltjie gaan neerval voor jou Rooisee nie. Hou aan beweeg… vorentoe… in geloof. Moses luister. Hy is gehoorsaam. Met ‘n kierie en ‘n uitgestrekte hand begin ‘n sterk Oostewind die see terugdwing, nie Moses, of Moses se kierie, of Moses se uitgestrekte hand nie. God. Net God. Eks 14:21: die wind het die hele nag die water oopgekloof en die see is drooggelê. Ek wonder tog, moes Moses die hele nag sy arm uitgehou het? Het dit iets van hom gevat? Het dit iets van hom gevra?

Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het, neem nou agter hulle stelling in. Miskien dek die Engel van die Here op hierdie oomblik jou agterhoede? Ook die wolkkolom wat voor hulle was het agter hulle ingeskuif, tussen die Israeliete en die Egiptenare. Aan die Egiptiese kant was dit pikdonker, maar aan die Israeliete se kant was dit lig. Laat dit jou nie ook dink aan die nagliggies wat ons in klein kindertjies se kamers sit wanneer hulle snags bang is nie? Sodat hulle nie hoef bang te wees vir dit wat hulle nie kan sien nie, maar die liggie troos en die banggeit is effe minder.

Die wonderlikste vir my is die feit dat God kyk in die wolkkolom af op die Egiptenare en Hy saai verwarring onder hulle. Die wiele van hul strydwaens val af en hulle kan skaars beweeg! Hoeveel keer, ontwetend, het God al jou vyande verwar? Hoeveel strydwaens se wiele het al afgeval soos die Here vir jou veg?

Het dit nie dalk tyd geword dat jy vreesloos voor elke Rooisee in jou lewe staan, nie?  Nie omdat ek en jy so oulik is nie, maar omdat ek en jy weet wie dit is wat vir ons veg, wie namens ons veg. Miskien: lê my krag in stil wees en vertroue hê (Jes. 30:15). Miskien moet ek minder kla en murmureer en meer vertrou. Dit het tyd geword dat ek moet leer om stil te wees want Hy veg vir my! Die God van die hemel en die aarde veg vir my …en vir jou.

 

8 Replies to “Wees stil! Ek sal vir jou veg…”

      1. M… Dankie!
        Dit is so so mooi!
        Dink sommer aan iets wat iemand eendag vir ny gese het… As die storm verby is en jy kyk terug is hy kalm en pragtig. Dis baie keer so en hoeveel lesse kan ons nie daaruit leer nie? Hoeveel keer het God ons nie gebring na die stilte en geluk na daai storm nie❤️
        Mag Jesus jou pen vol hou!!!!

        1. ✝️️ God sal jou of van lyding bewaar of jou die onfeilbare krag gee om dit te deurstaan. Raak rustig en hou op om jou te bekommer. (Francis de Sales)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *