Dogter van dié Koning.

Dankie liefste K vir die mooi prentjie.

In louter prag staan die Koningin daar in haar kleed van goudbrokaat. (Ps. 45:14) Jy is sy. Jy is MY dogter. (Gal. 3:26) Op jou, LIEFLING-DOGTER, wag die oorwinnaarskroon, ’n lewe saam met My. (2 Tim. 4:8) ’n Onverganklike kroon van heerlikheid. (1 Pet. 5:4) Ek sal jou soos ‘n sierlike kroon in My hand vashou. (Jes. 62:3) Jy kosbare dogter, is My blydskap en die kroon op My kop. (Fil. 4:1) Ek kom gou! Moenie dat iemand jou kroon wegvat nie. (Op. 3:11)

Jy is BEELDSKOON liefste kind, Ek het jou op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. (Ps. 139:14) Jou skoonheid moet die van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. (1 Pet. 3:4) Uiterlike skoonheid hou nie,’n mooi voorkoms is nie alles nie, maar jý liefste kind, omdat jy My dien verdien jy om geprys te word. (Spr. 31:30)

Jy is WAARDEVOL, baie meer werd as edelstene. (Spr. 31:11) Jy is duur gekoop en die prys is reeds betaal. (1 Kor. 6:20) Jy is vir My KOSBAAR. (Jes. 43:4)

Jy is GESEëN met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. (Ef. 1:3) My Gees pleit vir jou met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. (Rom. 8:27) Jy is KOMMERLOOS, jy ken geen kommer oor die toekoms nie. (Spr. 31:25) Ek is die Een wat vir jou sorg. (1 Pet. 5:7) Ek hou jou veilig in My hand. Selfs al gaan jy deur donker dieptes sal Ek by jou wees. (Ps. 23:4)

Jy is waaragtig VRY! (Joh. 8:36) So ver soos die ooste van die weste af is, so ver het Ek jou oortredinge van jou af verwyder. (Ps. 103:12)

Jy, vrou na aan My hart, is HARDWERKEND, jy pak die werk aan met krag, jou hande staan vir niks verkeerd nie. (Spr. 31:17) Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, GELUKKIG en VOORSPOEDIG sal jy wees. (Ps. 128:2) Ek hou die werk van jou hande in stand. (Ps. 90:17) Jy is tot alles in staat, want Ek gee jou krag! (Fil. 4:13) Jy is PRYSENSWAARDIG, jou kinders prys jou, jou man bewonder jou. (Spr. 31:28)

Jy is met ‘n DOEL geskape. (Spr. 16:4) Ek weet wat Ek vir jou beplan, Ek gee jou ‘n toekoms. (Jer. 29:11) Ek omgord jou met My krag en maak jou pad VOORSPOEDIG. (Ps. 18:33)

As jy LEIDING gee is dit met liefde, (Spr. 31:26) Ek die Here jou God, sal jou die kop maak en nie die stert nie, en jy sal altyd bo wees en nie onder nie. (Deut. 28:13-14)

Jy is vol alledaagse VREUGDE, want My blydskap is in jou. Jou blydskap is volkome. (Joh. 15:11) Ek het jou UITVERKIES, Ek het jou vir My AFGESONDER, jy liefste kind, is My eiendom. (1 Pet. 2:9) Ek het My naam oor jou uitgeroep. (Jer. 15:16) Jy wat aan My behoort is ‘n NUWE mens. Die oue is verby die nuwe het gekom. (2 Kor 5:17) Jy het My gevind, jy geniet my GUNS. (Spr. 8:35)

Ek BESKERM jou en sal nie toelaat dat jy struikel nie. (Ps. 121:3) Jy is nooit alleen nie, vir jou sal Ek nie in die steek laat nie. (Deut. 31:6) Ek het jou op jou naam geroep… JY is MYNE. (Jes. 43:1)

Dit moet jy weet liewe kind, niks kan jou skei van My liefde vir jou nie. (Rom. 8:35) Ek het jou EERSTE liefgehad. (1 Joh. 4:19) Ek het jou nog altyd liefgehad. (Jer. 31:3) Niks of niemand kan jou uit My hand ruk nie. (Joh. 10:28) Ek het My liefde in jou hart uitgestort. (Rom. 5:5) Ek hoop jy verstaan en begryp hoe ver en wyd en hoog en diep My liefde vir jou strek. (Ef. 3:18) Dogter van dié Koning, jy is GELIEFD.

8 Replies to “Dogter van dié Koning.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *