Jesus huil saam met jou…

Here, waar is U as my hart in duisende stukke op die grond lê? Waar is U my Jesus, wanneer trane ongehinderd oor my wange en siel loop? Hoor U Here? Voel U Here?

Het jy al vir God gevra of Hy saam met jou huil wanneer jy op moedverloor se vlakte kuier? Het jy al die God van die hemel en aarde gevra waar Hy is wanneer die donker jou van agter bekruip en sy yskoue hande om jou warm menslyf slaan? Ek het al… as jy nie vir jou Hemelse Pa die moeilike vrae kan vra nie, vir wie dan?

God sê in Sy Woord: Vertrou eerder op My liewe kind, en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. So kan jy God dan net blindelings vertrou en hoop in Hom wat ons nie eers kan sien nie? Jy kan verseker! Jesus sê in Joh. 14:1: Moenie onsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.

Die afgelope tyd het ek selfs vir God gevra: “Is dit ok as ek vandag nie ok voel nie?” Moeg, moedeloos, hartseer? Beteken dit dat my geloof te klein, te nietig is? Wanneer ons God se aangesig opreg soek, dan kom ontmoet God ons altyd en voorsien die antwoorde vir ons sagkens, op ‘n manier wat ons dit sal verstaan.

Miskien is dit vandag jou ‘Ek voel nie ok nie’ dag. Dis ok, maar ons moet net nie hopeloos voel nie, want ons het hoop, ek en jy, ons het vir Jesus. Heb 6:19 Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.

Kom ek vra jou. Wat maak jy as jou dogtertjie voor jou kom staan met ‘n gesiggie vol traan spoortjies, met haar stukkende hartjie in haar hande wat sy vir jou uithou? Wat voel jy? Stuur jy haar kamer toe en sê gaan sorteer jou eie probleme uit en kom terug as jy beter voel? NEE, jy trek haar saggies in jou mamma omhelsing in en jy is daar vir haar. By haar. Teenwoordig. Jy vee haar trane en joune af…jy wens selfs dat jy die pyn kan wegvat en namens haar dra. Hoekom sal God dan enigsins anders optree as jy met jou betraande gesig voor Hom staan? As ek en jy wat sleg is dan weet om vir ons kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal ons Vader in die hemel, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra? (Matt. 7:11)

Huil die Here saam met jou? Verseker! Met Lasarus se afsterwe was Jesus aangedaan en Sy gemoed het vol geskiet. (Joh. 11:33): Jesus het gehuil. Jesus het gehuil, nie omdat Lasarus dood was nie, maar omdat Hy jammer gevoel het vir Sy kinders. Jesus huil saam met sy kinders. Jesus huil saam met jou!

Gaan luister gerus na die woorde van Weep with me. (Rend Collective) https://youtu.be/GAGqvq4N_zQ

 

 

9 Replies to “Jesus huil saam met jou…”

  1. Hier lees ek nou met trane in my oë. Altyd goed om altyd te onthou dat HY daar is v ons. Lief v jou

  2. God is there for us through it all, through all the tears and hardships. He loves us unconditionally. Xxx

  3. Dankie Martha, dis weer ‘n herinnering dat God lief is vir ons, want as jy lief is vir iemand, deel jy sy emosies

  4. Dankie Martha.. Ek besef weer eens, dat ek nie alleen so voel met tye nie.. En dat God net n oproep weg is.. Dan vertroos Hy ons weer, en ek voel verlig.. Gee Alles vanaand aan God! Hy weet vanaand wat om daarmee te doen. Geloof Hoop en Liefde dus wat Hy ons mee toevou.. Sterkte aan almal op Moedsvelore vlaktes!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *