Aan die Voet van jou Berg.

Op die pad van die lewe kom ons almal, een of ander tyd, voor ons eie berg te staan. Ek weet nie wat jou berg  se naam is nie, miskien is jou berg se naam kanker, miskien is  jou huwelik besig om te verbrokkel, miskien is jou berg se naam skuld. Miskien voel jy die effek van Covid-19 aan jou lyf. Feit is: ons elkeen het ons eie berg wat voor en bo ons uittroon.

Almal se berge is ook nie ewe groot nie! Ek wil vandag vir jou vra: Hoe groot is jou berg? Nog belangriker… Hoe groot is jou God?

In Psalm 121:1 staan die volgende: Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? As mense doen ons die volgende: ons kyk op na die berg… en dan bestorm ons die berg soos ‘n wafferse kort afstand atleet. Vol bravado, moed en spoed, maar gewoonlik kom ons nie ver nie! Ons steek vas en kyk terug net om te besef, ons is eintlik nog aan die voet van die berg. Ons het klaar weer skoon vergeet waar ons hulp vandaan kom!

Miskien het jy wysheid nodig om oor jou berg te kom? God gee vir elkeen wat wysheid vra sonder voorbehoud. Dit help ook nie om in ‘n hopie voor jou berg neer te val en te hoop jou berg verdwyn soos mis voor die son nie. Dit weet ek verseker: God gee die vermoeides krag, Hy versterk jou wanneer jy voel jy kan eenvoudig nie meer nie. Hy gee vir jou nuwe krag om jou berg te kan uitklim. (Jes. 40:29, 31)

Miskien is dit tyd dat ek en jy nie langer staan en bewe voor ons berge nie. Miskien het dit tyd geword dat jy vir jou berg vertel hoe groot jou God is. Is dit nie dieselfde God wat jou op hoë plekke laat veilig loop nie? Is dit nie Hy wat wat jou voete soos die van ‘n ribbok maak nie?

Wanneer jy voor jou berg te staan kom, wil ek jou vandag uitdaag…gaan praat eers met die Een wat jou die liefste het, gaan praat eers met die Een wat vir jou net die beste wil hê, want as jy die tyd gevat het en jy voor jou Pa gaan staan het en met betraande oë opgekyk het en gefluister het… “Pappa, ek kan nie, dié keer is my berg te groot vir my” dan sou jy die geduldige stem van Abba gehoor het wat sê: “ My kosbare kind,” en terwyl Hy die trane saggies afvee sal jy Hom hoor fluister op die wind… volg die paadjie links om die berg, die voetpaadjie is reeds duidelik vir jou uitgetrap. Ek loop voor en jy kan maar net volg… en My kind, die uitsig van daar bo af… asemrowend.

 

 

 

 

11 Replies to “Aan die Voet van jou Berg.”

  1. Well Done!! Soo mooi bewoord en beslis vir ons ALMAL…..soos jy reg sê, die grootte van die berg/ koppie is net afwisselend…..dis die lewe op aarde!! Maar vir die wat bereid is OMOP TE KYK…..wag daar n EWIGHEID!!!

  2. So mooi geskryf Martha, baie dankie vir die tyd&liefde wat jy insit om ander mense te bemoedig! Liefde xxx

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *