In die Hemel…

Ek wonder soms oor die hemel. En jy? Het jy ook duisende onbeantwoorde vrae en “Ek wonders…”? Ek het vermoede teen die tyd dat ek en jy in die hemel arriveer gaan die antwoorde ook nie meer so belangrik wees nie!

Ek en kleinsus het die anderdag ‘n heel interessante gesprek gehad oor die hemel… sy het gesê as sy eendag in die hemel kom is sy bang dat sy altyd bekommerd sal voel oor die mense wat sy moes agterlaat… ek hoor heeltemal wat sy sê… ek dink miskien voel ons almal so bietjie so, maar dan sal dit mos nie hemel wees as ons die laste en bekommernisse van die aarde kan saamsleep nie?

Ek dink ons menslike denke sit God in ‘n boksie. En soos Paulus tereg in 1 Korintiërs sê: Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my te volle ken. Ek vermoed, wanneer ek en jy eendag in die hemel kom sal ons eers volkome die omvang van God se grootheid en glorie kan begin verstaan. Dan sal ons dalk genoeg insig hê om te verstaan hoekom ons nooit, nie eers hier op aarde, so bekommerd hoef te gewees het oor die mensies na aan ons hart nie.

Jesus het my en jou vooruitgegaan om vir ons almal (wat in Hom glo) ‘n plekkie voor te berei. Jesus sê self: “In die huis van My Vader is daar baie woonplek.” (Joh. 14:2) Maar Hy het my en jou nie wees en alleen agtergelaat hier op aarde nie. Hy het Sy Heilige Gees aan ons gegee. Ons Voorspraak, ons Vriend.  Wanneer jy moeg en moedeloos voel aan die kant van die hemel onthou Jesus se afskeidswoorde aan my en jou. “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20)

God se hemel, en ons ewige tuiste. Die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. (Heb. 11:10) Die dood sal daar nie meer wees nie, ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. (Openb. 21:4) Bekommernis sal daar nie wees nie, net vrede wat alle verstand te bowe gaan…en volmaakte liefde in die afweigheid van vrees. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees. (1 Joh. 4:18)

Things never discovered or heard of before, things beyond our ability to imagine- these are the many things God has in store for all his lovers. (1 Kor. 2:9 TPT) 

Liewe vriendin, het jy al gewonder wie gaan daar wees, wie nie? Ons kan maar net wonder tot ons eie uurglas op aarde omval en ons vir onselwers kan gaan sien, ek het op hierdie aanhaling afgekom oor die hemel. As ek in die hemel aanland, sal ek drie wonders daar sien. Die eerste wonder sal wees om baie mense daar te kry wat ek glad nie daar verwag het nie; die tweede om baie mense te mis wat ek gemeen het daar sou wees, en die derde en grootste wonder sal wees om myself daar te vind. -John Newton

Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig. (Op. 22:5) Die LIG is die glorie van God self. Donkerte het geen meer plek in die hiernamaals nie. Geen hartseer, pyn, verdriet sal ‘n plek hê in die hemel nie.

Die beste nuus is as ons eendag in die hemel arriveer sal dit met ‘n verheerlikte liggaam wees (Fil. 3:21) Ek en jy kan ons gebrokenheid, skete en pyne hier op aarde agterlaat.

Hoe die hemel gaan lyk weet ek nie, maar dat dit jou asem sal wegslaan is verseker. Poorte van pêrels, strate van suiwer goud, stadsmure wat met edelstene versier is… (Op. 21:15-24) Om die troon van Vader gaan daar ‘n reënboog wees met die glans van smarag… (Op. 4:3) Kan jy jou indink hoe verskriklik mooi dit gaan wees?

God se hartsbegeerte is dat ek en jy moet hemel toe gaan, na Hom toe. Sy hartsbegeerte is nie net vir my en jou nie, maar vir almal om hemel toe te gaan, want daar in die hemel by onse Vader is daar oorvloedige blydskap. (Ps. 16:11)

Vriendin die kaartjie hemel toe sal jy vind in Johannes 14:6; nee los maar die beursietjie by die huis, want niemand sou hierdie aller belangrike kaartjie kon bekostig nie, gelukkig vir my en jou is hierdie kaartjie gratis. “Ek is die WEG en die WAARHEID en die LEWE. Niemand kom na die Vader behalwe deur MY nie.”

Wanneer jy met hierdie belangrike kaartjie in jou hand staan, draai hom bietjie om, want dis wat op die agterkant van jou aller belangrike kaartjie staan. God het my só lief dat Hy sy Seun, Sy ENIGSTE Seun gegee het sodat ek wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die EWIGE LEWE sal hê. (Joh. 3:16)

Wanneer die tyd aanbreek om aanstaltes te maak hemel se kant toe sal almal wat ons vooruitgegaan het ons tegemoet loop, hulle sal ons verwelkom met ope arms. Ek wil lang gesprekke hê met my ouma wat nie meer krom is nie, maar fier en regop is. Ek wil my ma gaan opsoek, en my dogtertjie op my skoot tel en vasdruk, maar die heel graagste wil ek deur die skares soek en kyk tot my oë die oë van my Verlosser ontmoet.

Daar in die hemel in afwagting op ons koms: Gaan die Here, die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink. Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Ek en jy my liewe vriendin, sal nie anders kan as om uit te skree en te jubel: “Kyk daar, dit is ONS God, ONS het op Hom vertrou, Hy het ONS gered. Dit is die Here! My Here!!!” (Jes. 25:6,9)

One Reply to “In die Hemel…”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *