Die meeste Eerstewêreldse kinders ly aan die te-veel-ma-te-min-pa-sindroom. (Gloria Steinem)
Die Afrikaanse idoom sê: Van nuuskierigheid is die tronke vol en die kerke leeg. Dit mag waar wees van nuuskierigheid, maar die oorvol tronke, of dit nou van nuuskierigheid is of nie, sit vol van misdadigers met reuse leemtes in hulle harte wat eintlik deur Pa’s se liefde gevul moes gewees het.
Ons kan die deugde van moeders besing en die rolle wat hulle speel kan niemand eers probeer ontken nie, maar op geen manier kan ‘n Ma ooit die plek van ‘n Pa volstaan nie. Al probeer sy hoe hard, ‘n afwesige Pa sal ‘n leemte in ‘n kind se hart so groot soos Kimberly se gat veroorsaak, en kinders probeer om die leemte, die pappa-holte te vul met alles wat wêrelds en verkeerd is.
‘n Kind sal nie sommer ‘n Vader in God vind nie, tensy hy iets van God in sý vader ervaar nie. (Gary Smalley) Dit is tegelyke tyd ‘n kosbare en vreesaanjaende gedagte.
Wat dogters aanbetref, is dit ‘n Pappa se heel belangrikste werk om haar te wys hoe ‘n godvresende vrou behandel behoort te word, want wanneer daar ‘n skurminkel oor haar pad kom, sal sy hom herken vir wat en wie hy is, want haar voorbeeld, haar eie persoonlike pappa is onwankelbaar in sy respek teenoor ander, maar veral teenoor die skoner geslag.
Wanneer ‘n Pa afwesig is, sal dogters se selfbeeld daaronder ly. Al sê ‘n ma 100 keer op ‘n dag vir ‘n meisiekind, jy lyk mooi, jy is genoeg, ek is trots op die vrou wat jy is, sal sy sukkel om dit te glo as dit woorde is wat nooit ooit oor haar pa se lippe gekom het nie. Dis ‘n pa se werk en voorreg, om soveel keer as wat dit nodig is, sy dogter se kroon reg te skuif, al is sy al oud en uit die huis uit.
‘n Seunskind wil by sy Pa hoor, “You’ve got what it takes to be a man” Jy is mans genoeg. Jy is goed genoeg. Hoeveel gewig dra daardie selfde woorde wanneer dit uit ‘n ma se mond kom?
‘n Seun wil by sy Pa leer van manwees, van sy man staan, van selftrots en uithou en aanhou en van sukkel en van uiteindelike sukses. ‘n Betrokke Pa se seunskinders het ‘n goeie selfbeeld en selfwaarde. Hulle is identiteit is gevestig en seker.
En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil. (Ef. 6:4) Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie. (Kol. 3:21 2020)
‘n Goeie Pa, dink gewoonlik nie hy is só goed nie, die goeie Pa is die een wat altyd wonder of hy goed is en genoeg doen om hierdie kosbare kindertjies wat die Vader aan hom geleen het in een stuk groot te kry. ‘n Goeie Pa voorsien, versorg en hou sy gesin veilig. Dis ‘n groot voorreg, maar nog ‘n groter verantwoordelik. Hy spel liefde: T Y D!
‘n Pa moet leer om met aandag te luister, om te hoor wat gesê word, maar hy moet verseker ook hoor wat tussen die lyne nie gesê word nie. Hy moet verby woorde kan luister… Hy moet homself so ver kry om nie dadelik op te spring en alles te probeer fix nie.
God het in Sy alwysheid ‘n Pa aanmekaargeweef met sterkte, maar ook met ‘n goeie dosis genade en liefde en dis hoekom Pa’s glo in hulle kinders, in hulle uniekheid en andersheid. ‘n Pa probeer nie sy eie verlore ideale in sy kinders waar maak nie. Hy glo onwrikbaar in hulle vermoëns en toekomsdrome, en ondersteun hulle heelhartig hierin.
His heritage to his children wasn’t words or possessions, but an unspoken treasure, the treasure of his example as a man and a father. (Will Rogers Jr.)
‘n Pa wat sy sout werd is gee vir sy kinders genoeg verantwoordelikheid om eers klein besluite te neem, en dan al groter tot hulle uiteindelik op hulle eie voete kan staan. Die beste van Pa’s laat hulle kinders toe om foute te maak, want hy het hierdie geleende kinders van God lief met ‘n maak-nie-saak-wat liefde nie. Hierdie gesoute Pa is betroubaar, standvastig en beginselvas.
‘n Goeie Pa rig sy lewe so in dat sy voorbeeld navolgens waardig is. Hierdie selfde Pa weet baie goed kinders maak soos hy maak ongeag die woorde van wysheid wat uit sy mond kom.
My father didn’t tell me how to live; he lived and let me watch him do it. (Clarence Budington Kelland)
‘n Pa is die gesin se steunpilaar. Hy bid vir sy kinders en vir sy vrou… wanneer ‘n Pa nie meer weet watter kant toe nie, dan kan hy maar net die verlore seun se Pa se voorbeeld volg. Om met uitgestrekte arms nader te hardloop, sy kinders in sy arms op te raap en aan hulle genade en liefde in oorvloed te bewys… al verdien hulle dit nie eers altyd nie, want ‘n Pa se liefde is vas en onvoorwaardelik…