Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe Ek die Here jou vandag gaan red. Bly jy maar kalm, want Ek veg vir jou. (Eks. 14:13-14) Namens jou, vir jou.
Ook jy sal op droeë grond deurgaan in die middel van jou storm. (Eks. 14:16) Terwyl die water om jou bruis en dreig om jou te oorwledig.Weet jy steeds nie mensekind? Vir mense is dit onmoontlik, maar vir My is alles moontlik. (Matt. 19:26) Ek is YAHWEH. (Gen. 1:26) Vir My moet jy prys, want Ek is jou God en Ek het al hierdie magtige wonderdade vir JOU gedoen, (Deut. 10:21) en Ek het jou lief.
Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (Jer. 33:3) Wat Ek doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder. (Job. 5:9) Ek is magtig om oneindig meer te doen as wat jy bid of dink. (Ef. 3:20) Moet My nie in ‘n boksie probeer druk en My probeer definieër nie. Ek is God.
My Engel sal in tyd van moeilikheid agter jou plek inneem, dieselfde Engel wat voor jou uitgaan sal jou van agter beskerm. (Eks. 14:19) Ek stuur ‘n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. (Eks. 23:20) Ek sal My engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. (Ps. 91:11)
Ek help jou. (Jes. 41:10) Ek bewaar jou na gees, siel en liggaam. (1 Tess. 5:23) Oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak. (Spr. 2:11) En nou, liewe kind, Ek die Here God, vra net dat jy My sal eer, My wil sal gehoorsaam, My sal liefhê en dien met hart en siel. (Deut: 10:12)
Ek sal die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders. (Eks. 23:22) As jy voor jou probleme, teleurstellings en bekommernisse staan en hulle is meer as jy, moet dan nie moedverloor en bang wees nie. Ek die Here wat jou uit Egipte laat trek het, Ek is by jou! (Deut. 20:1) Ek sal vir jou alles laat goed afloop, My hand is na jou uit gestrek. (Ps.138:7-8)
Ek sal jou te hulp kom uit My heiligdom. (Ps. 20:3) Al word jy wat regverdig is liewe kind deur hoeveel rampe getref, Ek sal jou red uit almal. (Ps. 34:20) Moenie bang wees nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid, Ek sal jou altyd help in jou nood. (Ps. 46:3-4) Ek is ALTYD by jou, Ek sal jou nooit ooit verlaat nie. (2 Kor. 4:9) Niks of niemand sal jou ooit uit My hand ruk nie. (Joh. 10:28)
Ek is jou Lig en jou Redder, vir wie sou jy dan bang wees? Wie sal jy vrees, as Ek die God van die hemel en aarde jou toevlug is? (Ps. 27:1) As vrees jou hart beklem, vertrou net op My. (Ps. 56:4) As die onrus in jou hart jou oorweldig, laat My vertroosting jou tot rus bring. (Ps.94:19) Wanneer die trane oor jou wange rol is dit My genade wat vir jou genoeg is, My arms wat jou optel en teen My bors dra, My liefde wat jou oorweldig en My vrede wat jou hele menswees vul.
Moenie onsteld wees nie. Moenie bang wees nie. Ek self sal die water oopkloof en die pad voor jou, sal droog wees deur die see. Ek sal afkyk op jou vyand, Ek sal hulle verwar, Ek sal jou vyand se strydwaens se wiele laat afval, sodat hulle skaars kan beweeg. Naby jou, liefste kind, sal hulle nie kom nie. (Eks. 14:21-25)