Met Oopgestrekte Arms.

Ek kyk weer die ander dag bietjie die foto albums deur en kry ‘n kosbare foto van kleinsus wat hier tussen hemel en aarde in ‘n foto vasgevang is. Toe die girls baie kleiner was, het Jannie hulle altyd so lekker hoog in die lug op gegooi, dit was vir hulle vet pret, die armpies vol dimpels, uitgestrek in die lug, sorgvry. Oopbek skatterlaggies en mooi smeek-vra: “Nog, nog!” Hulle is nie eers vir ‘n oomblik bekommerd dat hulle pappa mis kan vang nie. Ek het verseker nie bang kinders grootgemaak nie…

Kleuters is darem net dierbaar verby, hulle wys graag met sulke uitgestrekte armpies só lief het ek vir mamma. Hulle kreun en steun die armpies breek amper af soos hulle wys. Dan weet jy mos die klein dingetjie wat hier voor jou staan, met die uitgestrekte arms, het jou regtig egtig lief.

Ek loop so vir ‘n paar dae met die uit- en oopgestrekte arms-tema in my hart rond en besef daar was ‘n Pa wat ‘n verlore seun met oopgestrekte arms tegemoet geloop het in die Bybel. Dag na dag… geduldig. Oopgestrekte arms vol verligting oor ‘n seun wat teruggekom het, arms wat sê: Ek vergewe jou! Wat beteken oopgestrekte arms? Dit beteken maar net jy is welkom, jy is geliefd, jy is kosbaar genoeg om teen my hart vas te druk.

Daar is so met-oopgestrekte-arms versie in die Woord. Want ŚÓ lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh. 3:16 1953) Sien jy dit vriendin, ‘n God wat jou ŚÓ lief het, uitgestrekte arms, in afwagting, gereed vir jou om net in Sy arms in te val.

Maar sjoe toe stop dit nie daar nie, ons, die mensdom, gaan spyker toe onwetend Sy enigste Seun vas aan ‘n kruis, met uitgestrekte arms… want sien dit was hoe lief Jesus jou het. Met uitgestrekte arms aan ‘n bloederige kruis, vat Hy jou sondes op sy skouers. Vriendin, dit was vir Hom swaar, dit was swaar genoeg dat Sy skouers dislokeer, Sy ligamente, spiere trek en skeur, dat die asem nie meer gemaklik in en uit Sy longe kon beweeg nie.

Sy liefde vir jou is steeds groter as die pyn, want sien Hy weet dat Sy Vader vir Hom dadelik meer as twaalf legioene engele beskikbaar sal stel om Hom van die kruis af te haal. (Matt. 26:53) Maar Hy doen dit nie. Wat dan van my en jou… die hele wye wêreld? Sy uitgestrekte arms ‘n getuienis, ‘n teken van ‘n liefde só groot dat woorde dit nie eers kan beskryf nie. Hy het die kruis gekies in jou en my plek. Met uitgestrekte arms verklaar Hy:   Ek het die wêreld ŚÓ lief. Ek het jou ŚÓ lief.

Daar is nog so uitgestrekte arms vers in die Bybel te vind in Psalm 103 vers 12: So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder hy ons oortredinge van ons af.

Vriendin, het dit nie tyd geword dat ek en jy met alles in ons begin vertrou op hierdie God met die uitgestrekte arms nie? Is Hy nie onveranderlik genoeg, groot genoeg, kragtig genoeg om ons klein aardse probleempies te dra nie? Het dit nie tyd geword dat ek en jy verklaar. “Abba, ek is 100% afhanklik van U”?

Sy planne vir jou en my was altyd nog net goed, want Hy was nog altyd ‘n goeie goeie God en Vader. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! (Ps. 34:9) Weet jy wat doen ons soms, in ons swaarkry, struikel, moedeloosheid gaan sit ons onsself soms aan ons eie tuis-gemaakte kruis. En ons verwag ander moet ons jammer kry… pleks daarvan om net te verklaar. Dit is nou mooitjies genoeg, dit was die laaste strooi. Ek kan nie meer nie… Ek wil nie meer nie… Ek gaan nie meer nie.

Dan vat jy jou bondels en bondels onsekerheid, nie-geliefd-gevoelens, sonde, afhanklikhede, struikelblokke, moedelose stukkies van jou en jy gaan sit dit alles by die kruis neer… en jy los dit daar. Môre vat jy weer alles terug kruis toe wat jy deur die dag weer gaan wegsteel het by die kruis. Tot jou bondels en bondels al minder raak tot daar net ‘n klein bondeltjie oorbly wat jy eendag op ‘n reëndag reg kry om vir goed by die kruis te los… en dan… en dan is jy VRY!

Moenie vergeet nie liefste vriendin: Die ewige God is ‘n skuilplek vir jou, Sy arms is altyd onder jou… (Deut. 33:27) Kan ons dan nie maar weer vandag opnuut besef en verklaar: “U is my toevlug en my veilige vesting, my GOD op wie ek VERTROU.” (Ps. 91:2) 

Kom ons leer om met oopgestrekte arms te leef, op die bergtoppe van ons struikelblokke en probleme te dans saam met ons God… met oop arms… as vrygemaakte, begenadigde dogters van die Allerheiligste God!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *