Ek is Vrou.

Sjoe, ek wou eers sê ‘n paar jaar terug toe ek in Matriek was, toe besef ek, ek moet eerder sê twee dekades plus terug. Nietemin ek het ‘n vriend gehad wat eendag vir my gesê het ek is emosioneel onstabiel. Kan jy dit glo! Ek? Emosioneel onstabiel? Mensig, ek was de vieste in vir hom! Die waarheid, en die besef kom natuurlik met wysheid en baie water wat in die see geloop het; ja, ek is bietjie, soms, emosioneel onstabiel, en weet jy hoekom? WANT EK IS VROU.

So ja, ek kan in een dag deurmekaar, bly, hartseer, vol vrede, bang, vreugdevol, angstig, hoopvol, hopeloos, rustig, paniekerig, omgeêllie voel. Die eerlike waarheid; meeste van die tyd weet ek nie wat ek voel en hoekom ek so voel nie. Soms is dit nodig om die baie emosies wat ons voel naam te gee, te herken en te erken en nie skaam te wees daaroor nie, want ek en jy is vrou.

Soms voel dit of ek in ‘n bondeltjie wil neersyg en net huil, of slaap vir drie dae aanmekaar. Voel jy ook soms so? Soms kan ek nie glo ek het ‘n man en kinders en ‘n huis om te versorg nie. Nie op ‘n slegte manier nie, maar iewers in my wese is ‘n meisie-nog-vrou wat 18 jaar oud is. Soms voel dit nie eers of ek ‘n grootmens behoort te wees nie. Asof mens huis-huis speel met ‘n man, kinders, die hele spulletjie. My ouma was al diep in haar tagtigs, nader aan haar negentigs toe het sy steeds gesê daar leef ‘n 21 jarige jong vrou in haar kop en hart.

Wat ek wel verseker weet is, God het my gemaak soos ek is. Met ‘n hele reënboog van goeie en soms minder goeie emosies. Die vraag is liewe vriendin in Jesus. Wat maak jy met al die emosies? Hoe is dit ooit moontlik om stoksielalleen te voel in ‘n vertrek vol mense? Baie maklik eintlik, want jy is mens en jy is vrou!

Ek het die volgende agter gekom van my emosies en myself. Wanneer my emosies die oorhand kry en met my wipplank ry is een van die volgende 5 goed nie lekker in harmonie nie. Ek moet 8 ure per nag slaap, dis nie onderhandelbaar nie. Slaap is my ding. Mamma beer is nie ‘n ‘happy chappy’ met te min slaap agter die blad nie. Ek moet gesond eet, as ek verkeerd en te veel eet het dit ‘n baie negatiewe effek op my emosies. Oefening is belangrik, ek praat nou nie van marathonne hardloop nie. Net genoeg. Wanneer ek stres oor iets is my emosies ‘all over the place’ en hormone (of moet ek sê demone?) dis die enigste een wat ek absoluut geen beheer oor het nie. Jou lysie goed wat jou emosies beïnvloed gaan dalk heel anders lyk as myne.

Dit maak nie saak met watter emosies jy vandag stoei nie, die antwoord is altyd dieselfde: JESUS. Gaan sit by sy voete, haal ‘n slaggie diep asem en hoor bietjie wat Hy van al jou menslike emosies sê:

Wanneer depressie sy swart kleed om jou skouers kom hang is dit God self wat jou help: Ek laat jou lamp helder skyn; Ek gee lig as dit donker is om jou. (Ps.18:28) Ek trek jou rouklere uit en trek vir jou feesklere aan. (Ps. 30:12)

Soms voel jy moeg, moedeloos, op en gedaan. God sê: Ek gee nuwe krag aan jou wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed. (Jer. 31:25) Die wat op My vertrou kry nuwe krag. Jy liefste kind, sal vlieg met arendsvlerke, jy sal hardloop en nie moeg word nie, loop en nie afgemat raak nie. (Jes. 40:31) Hou moed, wag geduldig. (Jak. 5:8)

Wanneer die emosie van ongeliefd en nie-goed-genoeg jou aan die keel beetkry, fluister God: Ek het jou nog altyd liefgehad. (Jer. 31:3) Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie. (Jes. 54:10) Jy behoort aan MY! (1 Joh. 4:4) Ek het jou eerste liefgehad. (1 Joh. 4:19)

Sommige dae smag ek en jy na hemelse rus en vrede. God wink jou en my nader, kom na My toe liewe kind, jy wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal vir jou rus gee. (Matt. 11:28) Laat My vrede oor jou hart en gedagtes wag hou. (Filip. 4:7) Net by My vind jy rus, vertrou My, kom stort jou hart voor my uit, kind na aan My hart. (Ps. 62:6,9)

Bang en vrees kry my sommige dae aan my keel beet, pluk my soms niksvermoedend aan my kraag onderstebo, maar dis God se sagte stem wat my tot bedaring bring. Selfs al gaan jy deur donker dieptes, hoef jy nie bang te wees nie, Ek is by jou, in My hande is jy veilig. (Ps. 23:4)

Wanneer bekommernis en stres jou inhaal en ‘n rukkie by jou wil vertoef dan kom kuier Jesus by jou, kom klop Hy aan die deur van jou hart. Liewe kind, hou kommer uit jou hart. (Pred. 11:10) Moet oor niks besorg wees nie liefste dogter, maar maak in alles jou begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan My bekend. (Filip. 4:6) Werp al jou bekommernisse op My, het ek nie nog altyd vir jou gesorg nie? (1 Pet. 5:7)

Jesus is 100% God, maar Hy was ook 100% mens, daar is niemand wat jou menslike emosies beter verstaan as Jesus nie. Draai na Hom, gesels met Hom, Hy wat jou gemaak het, verstaan die heel beste wat in jou hart aangaan. Hy wil jou help dra aan jou baie emosies, gee dit vir Hom… want Hy wat jou gemaak het weet… jy is vrou…

Lauren Daigle-Hold on to me

4 Replies to “Ek is Vrou.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *