My naam is Martha Meüter, ek bly in die mooie Durbanville. Ek is al vir 25 jaar getroud met my beste vriend. Ons het twee meisiekinders, ek noem hulle sommer my girls.
Ene is op Universiteit, besig met haar graad in Opvoedkunde, die ander ene navigeer nog die vreugdes van tiener-wees.
Ek is ‘n gewone vrou wat ‘n buitengewone God dien. My superkrag is kalmte van gees en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek het God lief met alles in my en Sy Woord is die lamp en die lig op my pad.
Ek het ‘n passie vir mense, maar veral vrouens, want ek weet eerstehands hoeveel balle elke dag in die lug gehou moet word. Ek verstaan maar alte goed van al die rolle wat daagliks vervul en onderhou moet word.
Ek is tans ‘n tuisbly mamma, en wat ‘n voorreg om so betrokke te wees by jou eie persoonlike kindertjies. Verder is ek besig om ‘n Narratiewe Pastorale terapie kursus te doen en ek het ‘n weeklikse blog wat gebore is in die grendel-periode. Om woorde op papier neer te sit is my terapie.
Die meeste vrouens het ‘n intense behoefte om te weet: Ek is genoeg. Ek is geliefd. Ek is nie alleen nie. Mag jy op hierdie blad God se stem raakloop, mag jy Jesus se hart en liefde vir jou ontdek en mag jy Heilige Gees se stil stem diep in jou hart ervaar op ‘n besonderse manier. Mag jy met die sekerheid in jou hart begin leef … Die Here is werklik naby. (Filippense 4:5)
Ek is opgewonde oor my eerste boekie wat die lig gesien het. Alle eer aan HOM wat ek liefhet! As jy die boekie wil bestel kan jy my kontak by: martha@weesstil.co.za
Dankie vir die tydjie wat jy kon afknyp om saam te kuier.
Liefde en Vrede in Jesus.
Martha
(Kom kuier gerus saam op die Facebook-blad: Wees stil.)